|
Dagsê!
Wildtuin dinge....
Ons is mal oor
die wildtuin en elke kans wat ons kry, of sodra die begroting dit
toelaat, sak ons af Kruger toe, al is dit partykeer net vir die naweek.
Sodra ons by die parkhekke in is, skuif ons in ons posisies in.
Lorraine, meisiekind, agter die stuurwiel. Aangesien die spoedbeperking
net sowat 50 km/uur is, behoort dit veilig te wees. Doreen, vrou, sit
voor, sy is die hoof uitkyker. Ekke sit agter, die hele sitplek vir
myself sodat ek by enige van die twee agterste vensters kan fotos
neem. Miskien kry ek die
keer DAARDIE foto!
Ek het nog nooit juis mooi olifantfotos van die kar af geneem nie, want
Lorraine is vrekbang vir hulle. Solank mens hulle NET kan raaksien in
die verte, is sy gelukkig!
Doreen het net een ding in haar kop en dis jagluiperd! Vir my is dit
luiperds, want dis al wat ek nodig het om my Groot
5 versameling te voltooi. Maar die goed is SOO skaars, ek sweer hulle
kruip weg as hulle ons kar se registrasienommer sien!
So ry ons een dag so karring-karring aan toe Doreen ewe skierlik iets op
die horison oor die pad sien loop. CHEETAHHH skreeu sy en
ek en Lorraine is wawyd wakker! RYYYY skreeu sy vir
Lorraine. KAN NIE skreeu Lorraine terug, op daardie
oomblik het 'n trop tarentale voor ons in die pad begin aanloop en
besluit hulle is nou moeg in die gras geloop en wil nou die pad probeer.
Darem kom hulle tot 'n draffie, maar bly in die pad! Intussen beweeg die
jagluiperd
doodluiters oor die pad en in die gras in.
Doreen raak desperaat! As jy nie NOU begin ry nie onterf ek jou!
skree sy vir arme Lorraine. Die tarentale is in die pad!, skree Lorraine benoud terug.
Trap die goed!!, word sy beveel!, maar die tarentale draf
maar voort, voel vere vir die mense in die kar wat so opgewonde is.
Uitendelik besluit die hoof tarentaal om nou maar in die veld te
hardloop, en daar gaan almal agter hom aan.
Natuurlik was jagluiperd se kind al lankal weg toe ons by die plek kom,
Lorraine was vir 'n lang tyd in Doreen se slegte boeke gewees!
Ek neem gewoonlik video en stil fotos in die wildtuin. Wanneer ek video
neem lewer ek heeltyd kommentaar oor wat ek neem sodat mense wat na die
tyd na die video kyk darem weet wat aangaan. My swaer, (sal nie naam
noem nie) het onlangs 'n videokamera aangeskaf en is nog nie op die
stadium waar hy gemakilik
voel om kommentaar lewer nie, so as mens na sy videos kyk is
alles tjoepstil en jy moet maar raai wat aangaan
Hulle gaan toe ook Kruger toe en was gelukkig genoeg om op 'n trop leeus
af te kom wat sommer so in die pad rondlê. Die een leeu staan toe op en
begin water drink uit 'n plassie sommer so langs hulle kar. My swaer is
in sy sewende hemel oor die geluk en neem video dat dit klap. Soos die
leeu buk om te drink laat hy 'n wind, maar nie sommer enige wind nie,
sommer so 'n VROT een! Die briesie waai die klank deur die venster die
kar in en in die doodse stilte wat heers terwyl my swaer so lekker
afneem hoor mens net:
Sies, ga!! Het jy gepoep??
sê hy.Sy
antwoord:Nee, jy's laf,
ek dog dis jy wat so vrot is!!!!
My swaer edit nog nie so goed nie en die stukkie dialoog is toe in die
video toe hulle dit vir ons wys. Ons het eers 'n halfuur later ophou
lag!
|
|
Knoffelring
Knoffelsous:
180 ml ( ¾ k) Botter, gesmelt
3 knoffelhuisies fyngedruk of 1 ½ t voorbereide knoffel
25ml (5 t) vars gekapte pietersielie
10 ml (2 t) gemengde droeë kruie
Brood :
2 ekstra groot eiers
25ml (5 t) olie
500 ml ( 2 k) louwarm water
60ml ( ¼ k ) suiker
1 pakkie ( 10gr) kits- droeë gis
1 knoffelhuisie fyngedruk
Knippie gemmer
Knippie sout
5 x 250ml (5k) Koekmeelblom
Voorverhit die oond tot 190° C ( 375° F)
Bespuit pan met kleefwerende kossproei van 23cm deursnee
Meng al die bestanddele vir die knoffelsous in `n kastol
tot margarine gesmelt is en hou eenkant.
Klits die eiers, olie, water en suiker saam.
Meng die res van die droeë bestanddele in `n groot mengbak Voeg
nou die watermengsel by en meng tot `n sagte deeg Knie die deeg vir 10
minute lank tot glad en elasties Bedek met bespuite kleefplastiek en
laat rys tot dubbel die grootte (1 uur) Verdeel die deeg in twee ne rol
12 ewe groot bolle van elke deel. Rol al die bolletjies in die
knoffelsous en pak in voorbereide pan Gooi die res van die knoffelsous
bo-oor Bak omtrent 36-40 minute tot gaar of mooi bruin bo-op Dien
louwarm op saam braaivleis |
|