| |
Die Peter-jasie Patriot |
|
|
Nommer
28 |
'n Passie vir
Afrikaans |
30 April |
|
Dagsê!
Ek gaan probeer om
'n lys van ons feeste te maak om op my webblad, so as julle dorp of stad
'n fees het, gee vir my die besonderhede asseblief, net die fees se naam,
die dorp en wanneer die fees gewoonlik plaasvind.
My gunsteling
vriendin in Namibië (wel, eintlik my enigste vriendin in Namibië) het
alweer vir my van haar artikels gestuur, ek plaas een hieronder, as jy
dit geniet, en ek is seker jy sal, laat vir Minette weet, sy hoor graag
van julle!
Innovasie of bron
van irritasie?
EK is nie die slimste blond in die land nie, maar ek weet wanneer ‘n
ding nie lekker werk nie. Al is dit deur vreeslike slim mense uitgedink
en teen miljoene dollars vervolmaak.
Dis baie lekker om deesdae jou melk en sappies in bokse te kan
rondkarwei, net jammer jy verloor die helfte van die inhoud daarvan
wanneer jy die eerste keer skink. Die indrukwekkende flaptuitjie aan die
voorkant werk ongelukkig nie, want die voggies kom met ‘n sierlike boog
uitgespoeg, al gooi jy hoe stadig en al mik jy hoe versigtig, dis altyd
of bo-oor die glas of op jou skoen.
Soos met die sakkies melk (wat in ‘n patetiese plastiekhopie ineenstort
nadat jy dit oopgeknip het en vir die skinkslag elke keer regop gehelp
moet word), is die triek om ‘n gat aan beide kante te maak om iets aan
die lugdruk daarbinne te verander. Maar dan is die boksie permanent oop
en die rondkarwei-aksie daarmee heen. Op die ou einde is dit minder
moeite en stres om die hele koei saam te vat op kampeersessies.
Die energiedrankies met die ruimte- eeuse tegnologiese wondertuit is net
so onprakties. Behalwe dat jy jou tande tjip met die ooptrek-bytslag,
kan jy nooit te hard suig of die botteltjie ‘n druk gee nie, want die
strale energievog spuit dan aan weerskante van jou wange verby en daar
sit jy, van ore tot tone bedruip. Terwyl die tuit met sy miniskule
gaatjie aan jou tongpunt vassuig en jy teen die lessenaar moet vasskop
om die ding af te trek.
Nog ‘n flop is glasflesse met beet en agurkies. Die beet is met mening
tot bo ingeskweez sodat jy na die eerste skepslag soos die slagter uit
die hel lyk met al die rooi spatsels die wêreld vol.
Die laaste agurkies doer onder in die fles moet jy soos goudvisse in die
rondte jaag voordat jy hulle met die hand gevang kry, want raakgesteek,
dié kry jy hulle nie.
Maar aan die ander kant is dit ‘n uitstekende tydverdryf vir kinders.
“Mag ek ‘n agurkie kry, Mamma?”
“Ja, my skat, help jouself.” Drie ure later is die kind nog steeds besig
om sy kos te probeer vang. Ten volle gehipnotiseer deur die kolkaksie
voor sy oë.
Koffieblikke is eintlik lewensgevaarlik, want daai oënskynlike gladde
rande wag net om jou hand by die pols te amputeer as jy nie versigtig is
nie. En dan het die vervaardigers nog die vermetelheid om ‘sealed for
your protection’ op die foelieflap te druk.
Maar die wenner van innovasies is sonskerms vir motorvoorruite. Enige
verveelde persoon is welkom om te kom kyk wanneer ek dié kontrêpsie
probeer opsit en afhaal. Die ding is veronderstel om heel pikant in ‘n
klein ronde pierinkie op te vou, maar laat ek dit probeer?
Dit lyk meer asof ek met die kar se airbag stoei soos dit rondglip en my
herhaaldelik heen-en-weer klap. Ek oorweeg regstappe teen dié sadistiese
vervaardigers.
Maar soos ek sê, ek is nie land se slimste nie. Ook nie die geduldigste
nie.
Daar is nog van
Minette se artikels
hier.
|
|
|
'n Tikkie
Humor |
|
Ou Rabbi Wolfson
is die rabbi in 'n klein dorpie. Hy is besig om sy
Sinagogeraad te smeek om 'n nuwe kandelaar vir die sinagoge te
koop, maar sonder sukses. Ná 'n uur se mooipraat sit hy maar dikmond.
Toe staan die voorsitter van die sinagogeraad op en sê:
'Waarom mors ons tyd met die geklets oor 'n kandelaar? Nie een van ons
kan dit eens spel nie. Tweedens, nie een van ons kan dit speel nie. En
derdens, wat ons EINTLIK in die sinagoge nodig het, is meer LIG!'
Daar bo
innie Bosveld stap hasie eendag so deur die gras en kom op 'n borrel
mampoer af wat in die son gelê het. Hy vat 'n paar slukke, ma' ie
witblits skop hom so lat hy net daar uitpaas. Jakkals kom verby, sien
vir hasie en die bottel, dog toe hy sal ook so sluk vat voor hy vir
hasie eet. Maar die warm mampoer kap hom ook om. So lê die twee nou daar
toe hiëna verby kom, hy kon sy geluk nie glo nie en drink ook aan die
bottel; selle storie, val net daar neer, uit-gepaas. Leeu kom toe op die
storie af, besluit hy eet nie aan jakkalse en hiëna's nie, en daarby is
die haas te klein om eers oor te worrie. Hy vat toe maar 'n paar groot
slukke en kort-voor-lank slaan hy ook neer. Met die begin hasie roer,
sit regop met 'n hewige hoofpyn. Hy skud sy kop, trek sy ore reg en kyk
toe so om hom. Toe sien hy hoe lê leeu, jakkals en hiëna uitgepaas om
hom. Hy mompel: "Hel, smaak my mos ek raak aggressief as ek gesuip is!"
|
|
|
Die Resep |
|
Die volgende resep is aan my gestuur deur vriendin Elzeth en kom uit 'n
resepteboekie uitgegee deur Shell in 1949.
Gaan kyk hier
vir meer ou resepte uit die boekie |
|
Outydse Bonesoep:
Bestanddele:
2 pond Beesvleis 1
Blaartjie Foelie
¼ pond Varkspek 1
Bossie Suring
1 pond Witbone
Omtrent 3 kwarte koue water
1 Ui
Sout en peper na smaak
1 Bossie Pietersielie
Metode:
Bone word oornag in koue water geweek. Sny vleis in mooi stukkies,
maar nie die spek nie. Sny ui in ringe en smoor in botter. Kap suring en
pietersielie fyn. Kook nou al die bestanddele goed tesame omtrent 3 – 4
uur. Roer af en toe. Indien nodig voeg meer water by.
|
|
|
Afrikaanse Lied |
|
Hier is iets nuuts! Vriendin, Melaney wat in Melbourne woonagtig is
stuur vir my nou die dag die skakel na 'n webwerf wat Afrikaanse midi's
op het asook die woorde van 'n hele klomp Afrikaanse volksliedere.
Johann Lochner, die eienaar van die webwerf verleen toe goedgunstiglik
toestemming dat ek van die woorde vir my nuusbrief kan gebruik. As julle
self wil gaan kyk,klik op die skakel:
Ons
Blêrkas van Afrikaanse Volksmusiek |
|
KOM SING MET MY
'N BURGERLIED
Woorde: W.H. BOSHOFF
Musiek: P.J. LEMMER
Kom sing met my 'n burgerlied
wat aan my hartsnaar raak,
en my op eie grondgebied
as staatmaker laat waak.
Vertel my van my eie volk,
tradisie, sede en taal,
wat my gevoel en siel vertolk,
van volksverlee verhaal.
Hou hoog met my die ideaal
"Vir vryheid en vir reg",
waarvoor my pa met bloed betaal,
die Voortrekker moes veg.
Kom leer my eer en lief te hê
my eie land se vlag,
en wie dié reg my durf ontsê
word deur my volk verag.
Kom spoor my aan om "Koers te hou"
en voorwaarts steeds te trek,
kom help my handhaaf en te bou,
'n nasie trots te wek.
Mag, wanneer ek my kop neerlê,
niks my gewete kwel,
geen nageslag, wat ek mag hê,
vir pligsversuim my skel.
|
|
|
Brokkies |
|
Die
Danville Hulpgroep
is nou ook betrokke by die
President Kruger Kinderhuis en die Margaretha Ackerman Tehuis
(Die
Danville Hulpgroep) |
|
|
|
|
Potjiekoskompetisies, reëls en beoordeling!
Klik hier! |
|
|
|
|
Ek is ook op soek
na nog Kermiswenke,Klik
hier! |
|
|
|
|
.Ek sal enige
terugvoer en/of voorstelle waardeer!. dankie - Peter |
|
| |
Druk jou speld op my besoekerskaart! |
|
|
Kontak -
Teken in/uit |
Epos:
peter@funkymunky.co.za
Teken in en uit onder aan hierdie bladsy:
|
|
|