|
Wees gegroet!
Die brief gaan
bietjie vroeg uit, ons gaan vir die lang naweek kamp by Rustenburg Kloof,
gaan daar dalk van julle daar wees? Kom soek my op, volgelaaide rooi
Nissan bakkie daar tussen die tente, teveel goed om in die Scenic te kry!
En stuur tog
asseblief vir daardie spesiale persoon in jou lewe blomme of tjoklits,
klik die banier bo aan die brief!
Ek is heel in my
skik oor die landkaarte wat ek nou op my webwerf het. Dis nou ideaal vir
mense wat wil met vakansie gaan en hulle roete wil beplan en op soek is
na verblyf. Die kaarte is "klikbaar" so as jy by 'n sekere plek verblyf
soek, klik net op die plek se naam en siedaar, blyplek in die omgewing!
Kan nie wag vir my volgende "trippie" nie!
Gaan kyk gerus! Ek vir die
van julle wat ook Noord wil gaan na Europa en Engeland,
klik hier vir vakansiebestemmings!
Eks nou skoon
omgekrap, in een van die tydskrifte wat hier by die huis opdaag lees ek
die volgende onsstellende feite! Dis die aantal kilojoules wat in al ons
lekker kos is, bv.:
Koeksister - 860kJ, pakkie slap chips 1292kJ, blikkie Coke 570kJ,
60g sjokolade stafie 1150kJ, samoosa 1100kJ en so aan en so aan! Wat nog
erger is is die hoeveelheid en tipe oefening wat nodig is om die
kilojoues te verbrand! Wonder of die lekker eet die moeite werd is!
Dis nou genoeg van
vakansies en rondry en eet, hier is nog een van Frik Lombaard se
kosstories. Dankie Frik!
Kokke se
Kombuis Geheime
Wanneer sop of bredie te sout is sny ‘n paar aartappels op en gooi in
die sop. Wanneer die aartappels gaar is haal uit die sop of bredie, gooi
dit weg. Die sop of bredie sal dan nie sout wees nie.
Indien die hoofdis of groente te soet is gooi ‘n teelepel appel asyn by.
As ‘n eier hardgekook is draai dit in die ronde. Hy sal eweredig draai
maar wanneer hy rou is sal hy nie so eweredig draai nie. ‘n Vars eier
sal sink indien jy dit in water dit terwyl die ou eier sal dryf.
Trane stort en uie skil is sinoniem. Om daar by verby te kom moet jy die
ui onder water skil of plaas die ui in die yskas om af te koel. Die ui
kan ook gevries word, dit haal ook die traan uit die oog.
Plaas verlepte slaaiblare in ‘n bak koue water waarin jy suurlemoensap
gegooi het. Sit dit dan in die yskas vir so ‘n uur.
Gooi ‘n klein bietjie suiker in die water waarin jy groente soos wortels,
ertjies, beet of mielies kook. Die groente sal hul smaak beter hou.
Plaas slaaiblare in ‘n papiersak en dan in die yskas. Moet nie die
buitenste blare afhaal nie, los dit daar totdat jy die slaaiblaar gaan
gebruik. Die slaaiblare sal langer hou.
Hitte laat tamaties ryp word en nie sonlig nie. So as jy die tamaties
wil ryp maak plaas hulle in ‘n warm plek. Bere ook tamaties met die
steeltjies na onder en hulle sal ook langer hou.
Bruinsuiker wat hard geword het kom sy moses tee wanneer jy ‘n vars
snytjie witbrood in die pakkie sit en dan die pakkie toemaak. Binne ‘n
paar uur is die suiker weer sag.
Plaas groen vrugte in ‘n plastiek sak met gaatjies. Dit sal toelaat dat
die lug sirkuleer en dat die ethylene gas wat die vrugte ryp maak behoue
bly.
Wat doen jy indien daar te veel vet in jou sop is. Neem ‘n paar
ysblokkies en sit dit in die sop en roer. Voordat die ys gesmelt het
haal die blokkies uit. Die vet klou aan die blokkies vas. ‘n Ander idee
is om die sop in die yskas te sit vir so ‘n paar uur. Die vet word dan
hard en kan maklik afgeskep word. So maak mens ook indien jy wegneem
kerrie en rys koop. Plaas dit in die yskas tot die vet gestol is. Skep
af en eet ‘n redelike vetvrye dis.
Marshmallows droog nie uit as dit gevries word nie. By my huis sal ek
nooit marshmallows vries nie want dit hou nie so lank nie.
Indien jou bredie so ‘n bietjie aangebrand het gooi melk in want melk
haal die brand smaak uit.
Stuur vir Frik
ePos
En sommer as 'n
bonus, hier is een van Minette se artikels, stuur vir haar
ePos as julle daarvan hou, sy waardeer terugvoer!
Malgoed
deur Minette Brink
Mense sê dag in, dag uit ‘jy’s mal. Jy dink te veel.’
Dis fine met my. Maar soms, net soms, dan wonder ek, wie’t besluit.
Ek ly aan bipolêre disorder, of so iets.
Daai ding wat die oorsprong aan die sêgoete’ eendag op, ander dag af’ en
my gedagtes ry wipplank’ gegee het.
Wil nie pille vir die dieper dors sluk nie. Wil nie langer terapie kry
nie. Wil die antwoord hê.
En waar sou Dawid die wortels begrawe het?
Op my opdae kan ek vlieg, als verstaan, almal liefhê, als vergewe.
Op my afdae voel ek …………………. in die middel van die godsverlate vlaktes,
sonder hoop, sonder liefde, sonder omgee.
Maar die kinders bly honger en ek wonder, hoe het ons tot hier gekom? Is
dit wat Lewe beteken?
Om op en af op deur wie bepaalde dae te vlieg en te pyn? Om waar uit te
kom? Om wat vir wie ookal te beteken?
Hoekom doen ek hierdie werk van voorgee? Vir wie, vir wat? Om jam op die
tafel te sit, saam met die gee ons ons daaglikse brood?
Vra en vir jou sal gegee word. Rêrig? As ek elke dag van my lewe vra vir
los tog daai ge-oorlog, vir oorvloed en insig vir elk, waarom word dit
nie gegee nie?
Elke dag rondploeter in bokstront en weeskindersnot in geblikte
eidsbesmette skwatterkêmps. Elke dag ‘n bedeltragedie. Wie gee om?
En tussen die laatnag skrywery deur sing jou kind iewers in die
agtergrond terwyl sy haar pop poeier gooi en onbewustelik voorberei vir
die sirkelgang van mawees’ daar kom Koos die groenteman, virre 5 sent ‘n
lemoentjie, virre 10 sent ‘n pampoentjie’ en vaagweg onthou jy iewers
dae van ‘n happy son, vrywees en loskopvry, dae van nikse tien plae nie.
En jy sou kon huil, as daar nog gate vir trane was, maar op hierdie
afdag is daar niks.
Net gedagtes wat maal oor skoolpêlle se dooie kinders, ander pêlle se
daggakop-met-mix lovers wat aand na aand dreig om daai symste koppe weg
te blaas, pêlle wat skeef gedraai het en op 40 skytbang vir ma en pa se
reaksie op dié onheilse sal wees.
Pêlle wat kleintyd so deur nee, pa, sallie werie, pa, eina, pa, gemoer
is dat hulle oë na allie jare nog nie kan sien nie, wil sien nie.
Dieselle ma’s en pa’s wat mekaar gelos het vir jonger, ouer, ryker,
mooier modelle, wat mekaar dik timmer na ‘n papsak, ‘n witsnuif, een
verkeerde kyk. Wat Sondag in die kerk sit, mekaar se hande angsbevange
klem, diktaai trane huil oor die…wat nouweer? Want die koppe maal
alklaar oor v’middag se braaivleis en het die bitch onthou om Blitz te
koop, gaan hy maak soos laas se Sondag se middagslaapseer….
Ek wil nie meer glo in die maak die wêreld ‘n beter plek nie. Die symste
wêreld wat die annerdag nog perfek aanmekaar getimmer is, sonder ‘n
papsak se hulp.
En wie het dit anders gemaak, verdraai soos dit ons-is-die-sterkste pas?
Onse kerk se mense. Onse slimme weetals. En soos Amanda Strydom sing, my
lam, kyk hoe lyk ek nou…”
Maizie haal asem en kyk met niksverwagtende oë na haar nuwe kopdokter.
Dié is grond-dom stil. Na ‘n paar ure sê hy tranerig, welkom by die klub,
Maizie, en probeer die medalje van erelidmaatskap aan haar hartseer bors
steek.
Grys en stil, die lug.
“Ek wil dit nie hê nie, sug Maizie en haak haar sak van die vloer af.
‘Ek loop dan liewers alleen. Want na alles verstaan julle nog minder as
my niks…’
Laat asb vir Minette weet wat jy van haar artikels dink. Soos meeste van
ons hou sy daarvan om ePos te ontvang, dit kikker soms net 'n harde
werksdag op! Sy is juis besig om te herstel na 'n trippie hospitaal toe,
so gaan sê gerus "Hello".
Klik hier om vir Minette ePos te stuur.
|
 |