|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Yayy! My gunsteling
Namibiëer is terug met nog 'n lekkerlees artikel. In die epos wat die
storie vergesel het, skryf Minette:
Ek sit nog steeds met die oliekop. het jou lesers nie dalk raad nie?
Of is daar nie iets in jou boererate nie? Dis om van naar te raak. ek
het gehoor ek moet handy andy met koeksoda meng, of eers met bier was en
dan met coke afspoel. hoenderstront gemeng met 'n handvol rosyntjies is
seker die volgende opsie..sug..
Kan iemand dalk vir Minette help? Stuur vir haar
epos, sy wag om
van julle te hoor! In alle geval, Minette is verbonde
aan die
Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië.
Hare tragedie
DIS regtig besonder
aangenaam om na twee weke verlof die kantoor in te stap en in my gesig
uitgelag te word.
“Whaaaa! Waar’s die harrekies,” skree een en vou dubbel van asemnood.
“Die bruin lyk ehm…anders,” probeer een kamma diplomaties.
“Gmffff,” snork ek beneuk en vee oor die vetterige stywe bolla wat my oë
skrewe trek.
“DIS NAT, nie gekleur nie,” bulder ek dat sien en hoor vergaan.
“Eow,” gril die lot en tree agteruit toe hulle die ghries op my vingers
sien.
‘DIS NIE SNAAKS NIE,” huil ek en sak op my bewoë arms neer.
Net om weer krag te kry vir die nagmerrie wat nou eers begin het.
Die vorige dag ‘bederf’ ek myself met ʼn lieflike haarproduk wat beloof
om jou harrekies ‘son-syagtig’ pragtig te laat.
Die bossiekop van my is erg droog en so ʼn potjie met die lekkerruikende
balsempie in, lyk na net die antwoord.
Ek kan nie wag dat die kinders gaan slaap nie sodat ek die wondermiddel
rustig in die koppie kan inwerk nie.
Soos op die potjie helsemdrek aanbeveel word, deel ek haarslierte in
seksies en masseer die groen pasta in elke haarselletjie in.
Toe die laaste stringetjie ordentlik gewaks is, duik ek in ʼn diep
skuimbad en glimlag verruklik oor die visioen van my nuwe ‘son-syagtige’
sagte hare.
Toe spring ek regop omdat die slierte verstok-styf in my skouers insteek
en voor my oë verder versteen.
Ek gryp die stortkraan en draai die rooikraan amper uit sy skarnier.
Verbrand my kopvel en gil van pyn, maar al wat afkom, uitkom, is die
olierige gemors.
Sewe en twintig sjampoo-sessies later lyk ek nog steeds of ek ʼn
industriële pot Vaseline met mening in my kop ingevryf het.
Dis ʼn disaster. En die son kom al op.
Ek is met ʼn stywe bollatjie kantoor toe waar die groot gelag my met ope
arms verwelkom.
Een kollega het my vir ʼn halfuur sit en bekyk voor sy stomverbaas ‘o dis
JY’ fluister.
“Is oor jy soos ʼn bosluis lyk met die klein koppie en die groot lyf,”
verduidelik die mees taktvolle kantoorlid.
“Nee, nee,” probeer Jo sy lewe red. “Sy lyk soos M, James Bond se
sekretaresse, veral met die brilletjie wat so mooi by die harrekies…”
haar stem verdwyn onder my verwoede weerligkyk.
Almal skarrel toe maar terug na hul lessenaars.
Terwyl ek die vervaardiger van die drek in Suid-Afrika probeer opspoor.
“En wat dink jy gaan hulle doen,” waag Jo dit so waar as VET weet hier
oor my skouer.
Voor ek kan terugblaf, skree sy van die lag vir haar eie simpel grappie.
“Hey, dalk stuur hulle vir ʼn jou ʼn jaar se voorraad Hairfood. Of dalk ʼn
pruik,” snork sy histeries en tel die potjie op wat ek intussen uit my
sak gepluk het.
“DIE GOED, o ek KEN dit. Die tweeling het dit op hulle koppe gesit en
dit het twee weke later eers uitgewas. Met Sunlight seep,” sug sy en
skud haar kop met die herinneringe aan hul eie haartragedie.
My onderlip begin bewe. Ek kan nie my hare afskeer nie. Met die
krulkroese van my lyk ek NES ʼn karakoellammetjie as dit kort gesny is.
Daai rimpelriffies oor die pelsie, dis my hare daai.
“Dis verskriklik. Ek voel nie lekker nie,” sê ek bleek en sluit myself
in die badkamer toe.
Twee ure later strompel ek betraand terug lessenaar toe en gaan bel die
verdomde vervaardigers. Hulle sal terugbel, sê die ontvangsdame kamma
besorgd. Met raad om terstond dié ou probleempie op te los.
Dis nou amper ʼn week later en nog nie ʼn woord van ghries-stroop uit die
buurland nie.
Nie wasseep, suurlemoensap of asyn het die triek gedoen nie. Ek lyk nog
steeds of ek verbete pogings aanwend om dreadlocks te groei. Ek het
amper Jo se raad gebruik om JIK en paintstripper te probeer, maar was
bang die kombinasie ontplof op my kop.
Ek sleep met trae voete by Dani se kantoor in. “Kan ek jou haarknipper
leen vanaand? Jy sien, ʼn vrou se hare is haar kroon, maar ʼn ge-oliede
kroon lyk maar hartseer.Watter kammetjie gebruik mens,” wil ek diep
bedroef weet.
“Nommer vier” sê Dani en sug empaties.
Nah, dink ek toe ek later met die haarmasjien in my hand staan.
Die kammetjie-bedryf lyk na ʼn beslommernis. Ek gaan dit sommerso sonder
een deurstoot…
Hier is nog 'n
episode in de lewe van Janet Appel, 'n Boerenooi in Amerika, wat smag om
weer iets in Afrikaans te skryf(en hoor en lees!). Stuur vir haar
gerus
epos (in Afrikaans) sy sal dit waardeer!
So was dit
Vrydagaand 9h55. Die sneeu het saggies gaan rus soos meel op 'n
kombuisblad net voor ek 'n brood sou knie. Maar tog brand die ysige wind
my wange soos twee ryp appelkose net voor hul perfek is om te pluk. My
oë vang die weerspiëeling van my gesig sonder 'n krieseltjie grimering
in 'n venster display. My trane het twee stroompies gesmelt in my gesig
en skielik voel ek soos 'n straatkind in Kaapstad opsoek na 'n helpende
hand. Sonder enige hoop.
My ou hoërskool vriendin, wie ek saamgesleep het Amerika toe met my
tweede besoek, het intussen verloof geraak aan 'n Amerikaner en is
huidiglik woonagtig in Stuart, Florida. Skielik kry ek my "helpende
hand" maar in plaas van dankie sê, kef ek soos 'n dankbare brak oor die
selfoon aan haar oor "hoe selfsugtig die verdomde Amerikaanse mans is".
"Verwat kerm jy soos 'n verdwaalde afkop hoender op die strate die tyd
van die nag. Het jy nie huis nie?" vra Marzanne met 'n groot
tekortkoming aan optimistme. Ek maak of ek haar nie hoor nie. "My vlug
vertrek oor 6 dae terug SA toe na my paadjie van niks-heid en die
verdomde man kan nie eens met my daaroor praat nie! Se voet of hy vandag
16 uur lank in die hospitaal was..." pleit ek.
Jy't aandag nodig pop. Sommer emmers vol. Jy's soos 'n verlepte varkblom
in Leliefontein. Jy weet daai in die someraande langs die hoofpad naby
Hopefield.." "Wat?" skerts ek. "Waar op aarde val jy uit met varkblomme?"
"Jy weet, varkblomme benodig gedurig water en mooi woorde soos ag jy is
spesiaal en pragtig... En watter kleinhuisie val jy nou uit? Jy het gesê
jy bly".
"Ek twyfel. Ek's benoud. Angstig. Bang dat ek 'n fout maak. Ek't boonop
my familie meer as 'n jaar laas gesien. En met ma se gesondheid...."
"Kyk, pop, ek trou Junie maand. Jy het klaar ingestem om my blommemeisie
te wees. Ek verwag jou daar. So bel vannaand 12uur huistoe, drink 'n
groot glas rooiwyn en gaan slaap. En sit maar daardie bagasie tasse ver
weg. Finish en klaar." Net daar eindig die gesprek met die geklik van
die gehoorstuk.
Die man van my sal dink ek's van my trollie af, dink ek vir myself. En
van vooraf rol die water oor my appelkosies. Net soos ma hul altyd sou
afwas in ons ou plattelanse kombuisie. Sy sou hul dan in die helfde knak
en die pit afsuig voor sy dit in die drom sou smyt. Skielik voel ek net
soos daai appelkoospit.
Malle ek moes iets Afrikaans in my toestand gemompel het want voor ek my
kon kry het daar 'n donkerkop meisiekind omgedraai en met 'n groot
glimlag gevra:" Waar kom jy vandaan?" Die arme ding moes haar asvaal
geskrik het toe sy in my rooi getjankte oë ingekyk het. Eweskielik het
ek nie meer so alleen gevoel nie. Ons het stories gesit en uitruil
terwyl ons gewag het vir die trein en ek't soveel beter gevoel toe ek my
self kon herhinner dat ek nie die enigste verdwaalde, afkop hoender hier
in Amerika is nie.
Volgende oggend was dit maar 'n gesukkel om woorde van verduideliking te
vind vir die arme Amerikanertjie wie se kop ek byna in twee happe
afgebyt het die vorige aand. Dankie tog hy simpatiseer met maandlikse
donderbuie. Aangesien hy so volhou dat hy vroumense verstaan. Wel ek't
nuus vir hom. Suid-Afrikaanse vroumense is 'n ander aap.
|
Vlooimark  |
|
Ek word gereeld
gevra of ek bereid sal wees om op my webwerf te adverteer. Kom
ons kyk of dit aftrek sal kry, klik op die skakel hieronder en plaas
jou gratis advertensie of snuffel maar net rond. |
|
|

Suid Afrika se Afrikaanse soekenjin
Dis doodmaklik om 'n
kaartjie vir die UK Lotto te koop. Die boerpot is selde minder as R10
miljoen en gereeld naby die R90 miljoen!!
Klik hier en kry jou kaartjie! Jy kan nie wen as jy nie in is
nie!
Boerpotte is gereeld £5 miljoen of meer, dis darem 'n
allemintige klompie Rand!
st
se pitkos
Klik hier om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Kom ek vertel jou n geheim
Wil jy graag suksesvol wees?
Ek meen, regtig iets aanpak ‘n groot sukses daarvan maak. Wel, ek het
groot en goeie nuus vir jou, want ek gaan ‘n baie belangrike bestanddeel
in die resep van sukses met jou deel. Ek gaan vandag iets met jou deel,
wanneer jy dit doen, sal sukses voor jou oopgaan soos ‘n sonneblom in
sonlig. Sukses gaan jou nie langer ontwyk nie.
En jy kan hierdie bestanddeel in een woord saamvat. Dis eintlik so
ongelooflik vanselfsprekend dat ek wonder hoekom nie meer mense hiervan
gebruik maak nie.
Almal soek na formules vir sukses, maar een of ander rede mis duisende (miljoene)
mense hierdie punt.
Dis so ooglopend, voor-die-hand-liggend. Doen dit net en sukses maak sy
poorte en skatkamers vir jou oop.
Een ding en jy sal sukses behaal soos nog nooit tevore nie. Ek weet wat
jy nou waarskynlik dink – dis onmoontlik. Dit kan nie waar wees nie.
Maar kom ek verseker jou, wanneer jy dit gebruik gaan jou kanse op
sukses sommer honderd keer vermenigvuldig.
Onmoontlik, sê jy, onmoontlik…. klink te goed om waar te wees.
Maar wanneer jy werklik met jou verstand en hart hierdie idee snap, en
dit doen, sal daar ‘n nuwe pad vir jou oopgaan. Sukses sal nie meer iets
ver weg wees nie, maar sukses sal na jou toe kom.
Die een ding wat sukses vir jou sal bring - die een ding wat sal
veroorsaak jy grootse dinge bereik - is voorbereiding.
Jy het reg gelees:
VOORBEREIDING.
Dink bietjie hieroor na.
Nou die aand by Toastmasters vertel iemand van Winston Churchill en sy
absolute briljante toesprake. Meer as sestig jaar later word nog verwys
na die fantastiese wyse waarop hy sy volk in tye van oorlog met sy
toesprake kon besiel. Daar word na toesprake van Churchill verwys as
model toesprake – selfs dekades nadat hy dit gelewer het. Churchill word
geprys as een van die beste sprekers ooit.
Maar Churchill het gesê vir elke minuut van sy toespraak, spandeer hy ‘n
uur ter voorbereiding daaraan. Met ander woorde, is sy toespraak 20
minute lank, spandeer hy 20 uur aan VOORBEREIDING.
Die grondslag van sy suksesvolle openbare redevoering is VOORBEREIDING.
En wel deeglike voorbereiding. Nie halwe lafhartige voorbereiding nie –
DEEGLIKE voorbereiding.
Lank terug lees ek in ‘n koerant oor juis hierdie gedagte voor die
eindstryd van ‘n Curriebeker op Loftus Versfeld in Pretoria. Die
sportskrywer sê dat hy een oggend in die week na die groot rugbystadion
gegaan het. Saterdag sou die eindstryd daar gespeel word. Die groot
stadion was leeg en sonder mense. Niemand op die pawiljoene of op die
veld nie. Behalwe vir twee persone. Naas Botha en ‘n helper. En hy het
gaan sit ek kyk hoe oefen Naas Botha. Uur vir uur – aanhoudend. Hierdie
skopkoning van Suid-Afrikaanse rugby wat feitlik alle punte- en skop-
rekords verpletter, oefen steeds sy skoppe. Hy het nie meer nodig gehad
om te oefen nie. Hy was reeds briljant. Reeds gevrees oraloor vir sy
ongelooflike vermoë om wedstryde met sy skopvoet te wen. Maar hy is
steeds besig om hom voor te berei.
En hierdie joernalis wat so na Naas sit en kyk, skryf in die koerant toe
hy sien hoe oefen Naas sy skoppe weet daar kom moeilikheid vir die ander
span. Want Naas oefen elke skop oor en oor. Berei hom voor, elke skop
dodelik sekuur. Want wat doen Naas – VOORBEREIDING!!!
Wil jy uitstekend met iets wees, wil jy briljant wees. Beter as die
gewone normale. VOORBEREIDING, deeglike voorbereiding is die
sleutelwoord.
Dit was die man wat gekroon is die grootste sportman in Suid-Afrikaanse
sport – Gary Player – wat die beroemde woorde gesê het: “The more I
practise, the luckier I get.” Weereens VOORBEREIDING.
Wanneer jy iets aanpak en ‘n sukses wil maak, sit al jou energie, tyd,
totale menswees, dinkwerk, verstand, gees, siel, hart, kragte sonder
ophou en sonder verskoning daarin. Berei jou voor in elke minuut tot jou
beskikking. In jou voorbereiding werk voortdurend sonder ophou aan jou
projek. Moenie tevrede wees met halwe voorbereiding nie.
Slegs 100% VOORBEREIDING is goed genoeg. Al kan jy ‘n ding perfek doen,
gaan dit weer oor, herhaal en herhaal en herhaal. So sal jy nader aan
die volmaakte kom in die ding waarna jy streef. So verander jy
gemiddeldheid in briljantheid. Die gewone in die fantastiese.
Mislukking / gemiddeldheid / doodgewone is die produk van swak
voorbereiding.
Wat jy ookal aanpak vir sukses, die geheim is goeie deeglike
VOORBEREIDING.
Dr ST Potgieter, sielkundige – webwerf
http://www.pitkos.co.za
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
|
|