|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Die volgende Patriot
gaan later as gewoonlik uitgestuur word, ons gaan eers bietjie rondry en
daar gaan nie geleentheid wees om dit in 2 weke se tyd uit te stuur nie,
so byt maar vas, as hy weer uitkom gaan daar baie fotos van ons reise
wees. Dalk is e trug by die middel April, ons sal maar sien. Dis die
lekker van afgetrtee te wees, jou tyd is jou eie!
Estelle de Bruyn is
ook verbonde aan die
Republikein, die enigste Afrikaanse dagblad in Namibië. Stuur
gerus vir Estelle
epos as jy
van haar artikel hou, sy sien uit om van julle te hoor!
Daar’s ‘n slang in
die gras in die nuwe, groen Genesis
Estelle de Bruyn
AS ek Eva was, het ek self my vyeblaartjies gepak en uit die Paradys
padgegee. Dis nou te sê ná die episode met die slang.
Tydens my luilekker vakansietjie hang ek een oggend maar rond en begin
in my studeerkamer vroetel en regpak en weggooi. Met ’n bondeltjie
weggooigoed in my arms stap ek op pad deur die kombuis na die buitenste
asblik in die garage.
Met die intrapslag in die kombuis steek ek vas. Iets is fout. Ek is
beslis besig om te hallusineer, want die teëlvloer in die kombuis beweeg.
Ek knip-knip my oë, fokus mooi en sien dis nie die vloer wat beweeg nie,
maar ’n lang slang wat besig is om daaroor te seil in die rigting van
die garage.
Ek weet ek het nie gevloek nie, maar ’n oerkreet van verskrikking en
walging het uit my binneste ontsnap en toe dit my ore bereik, my
teruggeruk het na die werklikheid. Gevries, versteen het ek bly staan
tot die slang uit die kombuis en in die garage was. Soos ’n regte
Liquorice All Sorts-mannetjie rek ek my byna uit lid uit en kry die deur
toe waardeur die slang weggeseil het.
Met bewende vingers bel ek my slimme kollegas by Republikein wat ver
beter as ek weet wat om in krisisse te doen. Hulle stuur onmiddellik die
dapper Dirk Heinrich van Allgemeine Zeitung, wie ’n natuurkenner by
uitnementheid is, tot my redding. Ek wip by die voorhek uit om hom in
die straat in te wag en daar kom ek wederom vir slang se kind teë. Dié
het intussen onder die garagedeur uitgeseil en lê voor die deur in die
oggendson. Ek koers straat toe om Dirk te keer dat hy nie moet inry en
die slang weer binnetoe jaag nie.
Minute later stop Dirk en Minette voor my deur. Bewend, grillend wys ek
waar ta lê en die dapper Dirk stap kordaat nader en vang die slang met
sy kaal hande.
My hele lyf van kop tot tone is die ene hoendervleis, ek gril soos ’n
mens maak wanneer iemand met sy naels oor ’n swartbord krap. Dirk stap
die berge in en laat die slang vry.
Gmf! dink ek, laas toe ek Genesis gelees het, sou die slang jou aan die
hakskeen byt en jy moes sy kop vermorsel. Maar nou ja, Genesis is voor
eko-vriendelikheid eers ’n gedagte by die eerste bewaringsbewuste was,
geskryf.
“Dis ’n baba-sweepslangejie,” paai Dirk. “Hy kan jou niks aandoen nie en
is waarskynlik banger vir jou as wat jy vir hom is.”
Dit bring geen gerusstelling nie. As dit ’n baba is, waar is sy ma en pa
en boeties en sussies, wonder ek.
Wat is dit dat ’n mens (okay, sommige van ons dan) so ’n oervrees vir
die seilende gedoentes oorgehou het? Miskien beteken dit dat ek nie veel
hoër as die tweede sportjie op die evolusieleer geklim het nie en diep
binne my nog daardie swart vrees vir die vreemde en onbekende van ons
grotbewonende Neandertal-voorsate koester.
Deesdae stap ek nie meer kaalvoet in my huis rond nie, maar sorg dat my
hakskene toe is; ek klim nie in die bed nie, maar spring van ’n afstand
af op, ingeval Swepie se ma en pa en familie dalk onder die bed skuilhou.
Kry ’n meerkat, slange is bang vir hulle. Gooi chloorpoeier om jou huis
want dit skrik slange af, kry ek raad.
Vermorsel sy kop.... as jy moed genoeg het om dit so na aan hom te waag,
dis al wat ek glo.
Die volgende kom
van Julanda van Swakopmund, baie dankie!
Die Super 14
uit 'n vrou se oogpunt!
Maak nou maar
vrede daarmee dat jy die man in jou lewe vir die volgende paar maande
tydens naweke aan rugby moet afstaan.
Moenie dikbek en bakleierig raak daaroor nie. Probeer liewer moeite doen
om die belangstelling met hom te deel.
Wat jy moet weet:
Vanjaar se toernooi is die Super-14. Die Super-12 is sóó laasjaar.
Dis die Super-14, maar daar is 15 spelers in 'n span. Die 14 verwys na
die hoeveelheid spanne wat deelneem, nie die hoeveelheid spelers nie.
Hoewel daar 15 spelers in die span is, is daar veronderstel om 31 mense
op die veld te wees. Dit is twee spanne van 15 elk, en die skeidsregter
( ref ) - hy is die ou wat 'n ander kleur trui aanhet as die res van die
ouens en die een wat die fluitjie aanhoudend blaas sodat die spelers kan
rus.
Hoewel daar 15 spelers in 'n span is, help dit nie jy probeer hulle name
uit jou kop uit leer om manlief te beï ndruk nie. Die kans is 100% dat
vier of vyf van hulle iewers gedurende die wedstryd die veld gaan
verlaat en deur iemand anders vervang gaan word.
Kaartjies is gewoonlik goeie nuus. Soos Valentynskaartjies,
verjaarsdagkaartjies, fliekkaartjies. Maar in rugby is kaartjies slegte
nuus.
'n Gele beteken die ref is vies vir iemand en stuur hom vir 'n rukkie af.
'n Rooi kaart beteken moeilikheid. Groot moeilikheid. Die ref is nou
kwaad. Jy gaan daardie knaap wat die kaartjie kry vir die res van die
wedstryd nie weer sien nie.
Suid-Afrika het vyf spanne in die toernooi. Die Bulls is van Pretoria,
maar hulle is nie die Blou Bulle nie. Die Cats is van Johannesburg, maar
hulle moenie verwar word met die kwaaikatte van die Vrystaat, wat die
Cheetahs is nie. Die Stormers is van die Kaap ( Kaap van Storms) en die
Sharks is van KwaZuluNatal en noem hulle tuisveld die Shark tank .
Jy jy sukkel om by te bly met jou vriendinne se lys van kêrels . .
Moenie eers probeer om 'n span te identifiseer net omdat jy iemand op
die veld sien wat jy van verlede jaar onthou nie.
Moet byvoorbeeld nie die Bulls speel as jy 'n outjie met die naam Tiaan
Snyman sien skop nie. Hy het voorheen vir die Blou Bulle gespeel, maar
speel nie hierdie jaar vir die Bulls nie, maar wel vir die Stormers. En
Percy Montgomery lui dalk 'n Stormer-klokkie by jou, maar hy draf
deesdae uit vir die Sharks.
Vrae om nie te vra nie
· Ná rustyd: "Hardloop hulle nie nou verkeerde kant toe nie?"
· Terwyl Naas Botha besig is om te verduidelik wat die probleem in
Suid-Afrikaanse rugby is: "Liefie, mag 'n speler skepskop van 'n vryskop
sonder dat 'n speler van die ander span aan die bal geraak het?"
· Wanneer manlief se span onder aan die lys van Super-14-presteerders
is: "Verduidelik gou weer vir my wat beteken relegasie?"
· "Wen ons?"
Opmerkings om nie te maak nie
· "Oe, maar daai nommer tien het mooi boudjies!"
· "Haai kyk, Percy het weer 'n ander haarkleur. Dink jy nie Coert hier
onder by Hêr Desaain sal joune ook so kan kap nie?"
'n Manlike kollega wat alles van rugby af weet, sê rugby is oorlog. Dit
beteken jy mag niks, absoluut niks oor kosmetiese kwessies sê nie. Niks
oor haarstyle of skouerkussings nie.
"Voor jy enigiets sê, vergewis jou van die telling. As die
Suid-Afrikaanse span nie voorloop nie, bly stil," verduidelik hy.
"As die Suid-Afrikaanse span wel voorloop, mag jy praat. Die reël oor
die kosmetiek verval dan op die plek en 'n opmerking oor iemand se hare
ï s toelaatbaar."
'n Groot, groot nee: "Hoekom speel die spanne van Australië soveel beter
as ons spanne?"
Dinge om nie te doen nie
· As die eerste helfte van die wedstryd verby is, weerhou jou daarvan om
op 'n Vrydagaand vinnig oor te skakel na Noot vir Noot . Dit is helse
sonde. Nie Noot vir Noot nie, maar om die kommentaar van die kenners in
die ateljee te mis.
· As jy planne het om die speeltyd te laat oorloop na ekstra tyd deur
vir jouself 'n rugbytruitjie te koop vir die slaapkamer, maak in
hemelsnaam seker daar staan nie iets soos Brumbie of Chief op die
stukkie kleertjie nie.
As dit 'n gekuier raak
· Wees bly as hy 'n paar vriende wil oornooi vir 'n wedstryd. Jy wil tog
nie hê hulle moet liewer iewers in 'n kroeg voor 'n platskerm aan die
suip raak nie, of hoe?
· Berei lekker happies om vooraf en rustyd te bedien. Vergeet van
vrugtesosatietjies en soesjierige goetertjies. Tjips, biltong, pretzels
en 'n lekker dip sal die ding doen.
· Ná so 'n game is 'n ou honger. Pap, sous, braaibroodjies,
aartappelslaai, 'n paar tjops en 'n stukkie wors sal goed afgaan saam
met 'n koue Germaanse bruisdrankie.
En as sy span gewen het, skink maar vir jouself ook 'n versterkwatertjie,
want dit beteken hy gaan die game weer môreoggend kyk op die
heruitsending. En oormore se kuier by jou ouers is dan van die baan,
want dit val saam met die uitsending van die afgelope naweek se
hoogtepunte.
Moenie moed verloor nie. Wees geduldig.
Tel tot 14.
Sopas nog 'n
boodskap van Elsabe van die anville Hulpprojek gekry. As julle enigsins
kan, help asseblief vir Elsabé en haar span, hulle doen wonderlike werk.
Ek staan verstom oor wat sy kan vermag! Mense het byvoorbeeld verblyf
nodig en sonder om te aarsel bestel sy 'n Wendyhuisie sonder 'n sent om
daarvoor te betaal. En keer op keer is die geld beskikbaar wanneer dit
by betaaltyd kom! DIS nou vir jou geloof!
11 Maart 2006
Goeiemôre vriende,
Hoe sê 'n mens DANKIE? BAIE BAIE DANKIE aan almal wat gehelp en bygedra
het om ons projek weer op die been te kry.
BAIE DANKIE vir julle ondersteuning en bemoediging toe ek moedeloos wou
word! Die laaste 3 weke was sekerlik die moeilikste in ons projek se
leeftyd!
BAIE DANKIE vir julle groot naasteliefde. Ons kon al ons verpligtinge
nakom en ek het 'n hele 1 ton bakkie propvol met kruideniersware
versprei! Wat 'n vreugde en voorreg was dit om weer 'n massa
kruideniersware te kon gaan aankoop. Elke artikel wat ek van die rak
afgehaal het, het die liedjie "How Great Thou Art" meer en meer
betekenis gegee. Nogmaals baie dankie.
Nog goeie nuus hierdie week is dat ons projek nou ook as 'n Artikel 18a
geregistreer is. M.a.w. Geldelike donasies aan ons projek kan nou van
jou persoonlike belasting afgetrek word. (Belastingverligting!!) Ek sal
later meer inligting hieroor gee asook 'n uittreksel uit die SARS
dokumente hieroor. So indien jy belastingprobleme het - Die Danville
Hulp Projek is nou jou antwoord!!! - wonderlik nê??
Alhoewel ons nou hierdie maand ons verpligtinge kon nakom wil ek net vra
dat almal ingedagte sal hou dat ons op 'n deurgaande basis ook donasies
van kos, klere, meubels en enige goeie bruikbare artikels nodig het.
Die winter is alweer om die draai en met hierdie koue spel wat ons gehad
het, het ek besef dat dit alweer tyd is om warm klere en komberse te
begin bymekaar maak! Kom dames - daardie klerekaste moet omgeruil word -
en - onthou dit wat jy nie die laaste 6 maande gedra het nie, gaan nie
weer maklik gedra word nie!!! Dus gooi maar uit - daar is iemand
daarbuite wat dit bitter nodig het.
Ons weet natuurlik dat al hierdie blessings wat na ons kant toe gekom
het en nog steeds kom suiwer aan ons Hemelse Vader te danke is! Sonder
SY groot genade is ons verlore.
Ek hou julle op hoogte van al ons aksies en vordering.
Gaan loer gerus in op ons webwerf: www.danvillehulp.co.za en geniet die
foto's van al ons projekte.
Mooi dag en nogmaals baie, baie dankie.
Elsabé (Kontakbesonderhede ondertoe)
|
Vlooimark  |
|
Ek word gereeld
gevra of ek bereid sal wees om op my webwerf te adverteer. Kom
ons kyk of dit aftrek sal kry, klik op die skakel hieronder en plaas
jou gratis advertensie of snuffel maar net rond. |
|
|

Suid Afrika se Afrikaanse
soekenjin
ePos Vriende - In die ou dae voor die internet het ek vele
penvriende regoor die aardbol gehad. Jy moes weke wag vir 'n antwoord op
jou brief! Vandag, met ePos gaan dinge sommer blitsvinnig! Mens moet
egter in baie gevalle betaal om jou naam op 'n penvriend lys te kry. Ek
glo nie daarin om vir vriendskap te betaal nie, dus gaan ek 'n gratis "ePos
Vriende" afdeling begin. Al wat jy hoef te doen om jou gegewens op die
lys te kry is om
HIER te klik en jou besonderhede in te tik. As jy soek na 'n
vriend, klik
HIER en gaan deur die lys en stuur 'n epos aan iemand met wie
jy wil korrespondeer, so maklik soos dit! Die eerste 20 inskrywings kry
elkeen 'n gratis kopie van my Tradisionele SA Resepte eBoek!
Dis doodmaklik om 'n
kaartjie vir die UK Lotto te koop. Die boerpot is selde minder as R10
miljoen en gereeld naby die R90 miljoen!!
Klik hier en kry jou kaartjie! Jy kan nie wen as jy nie in is
nie!
Boerpotte is gereeld £5 miljoen of meer, dis darem 'n
allemintige klompie Rand!
Ek het nou die dag 4 nommers ingehad, hulle betaal dit sommer aan jou
per tjek in Rand!
st
se pitkos
Klik hier om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
‘n
Belangrike bestanddeel in die resep van die lewe is self-dissipline.
Vandag kortliks enkele gedagtes hieroor.
Daar is baie elemente en attribute wat belangrik is om jou doel te
bereik en jou lewe die moeite werd te maak. Self-dissipline beslis een
van die belangrikste fasette van sukses hetsy dit nou in jou loopbaan,
huwelik, sport, finansieël, ‘n projek, oorkoming van ‘n slegte gewoonte,
dieet of wat ookal is.
Die afwesigheid van self-dissipline lei tot frustrasie, ontevredenheid,
mislukking en take wat net nooit klaar kom nie. Soveel mense begin iets,
maar halfpad raak hulle verveeld met die ding, nie meer lus nie en gooi
tou op.
Peter, dink ‘n bietjie aan jou lewe waar het jy gefaal en nie bereik wat
jy kon nie. Miskien met ywer en geesdrif ‘n saak begin, maar toe die
vasbyt en deurdruk nodig was, het jy self-dissipline gekort om vol te
hou en elke dag jou deeltjie te doen.
Dis is lekker wanneer alles nog lekker en opwindende en nuut is, maar
sukses word gebore in die alleenheid wanneer jy steeds doen en volhard
sonder om op te gee. Beskik jy oor hierdie kwaliteit?
Self-dissipline kan jy nie koop nie. Self-dissipline word nie sommer gou
aangeleer nie. Self-disspline verwerf jy oor ‘n lang tydperk van aanhou
met volharding nadat jy lankal reeds handdoek wou ingooi. Self-dissipline
getuig van ‘n sterk karakter en inbors. Self-dissipline kom van binne,
jy kry dit nie van iemand nie.
Stel selfondersoek in – kyk na jou lewe, werk en dinge wat jy aanpak.
Getuig dit van ‘n self-dissipline wat van karakter en eerbaarheid getuig?
Self-dissipline is ‘n sleutel tot sukses, die bou van karakter en die
bereiking van jou potensiaal. Ek kan dit jou nie gee nie, jy moet dit
verwerf. Maar wanneer jy dit verwerf het, groei jy as mens en begin jy
werklik lewe.
Veel mense het aan die einde van hul lewe nie bereik wat hul kon nie,
omrede hul nooit self-dissipline aangeleer het nie. Mag ek dit herhaal:
ek kan dit nie vir jou gee nie, jy moet dit oor ‘n lang tyd deur jou
aksie en optrede aanleer. Self-disspline is ‘n gewoonte wat jy aanleer
en met tyd word dit deel van jou – deel van jou karakter en
persoonlikheid.
Mag jy die genade en wysheid ontvang om self-dissipline aan te leer en
deel van jou lewe te maak.
Sprankie Wysheid vir die Dag
“Die verskil tussen vervulde en onvervulde mense is self-disspline.” –
Gavin Sharples
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
|
|