|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Ons het gedurende
September die langpad gevat na Vic Valle aan die Zimbabwe kant. Ons het
deur Botswana gery en by Lokuthula Lodge in Vic Valle gebly. Die Zambezi
rivier was maar laag en die valle het nie heeltemal vol geloop nie, maar
dit was nog 'n asemrowende gesig! Ek het onder andere op 'n olifant gery,
'n riviersafari beleef en, glo dit ofte nie, met 'n ultralight
vliegtuigie oor die valle gery, nogal mooi fotos gekry!
Ons is amper elweer
oppad, die keer vir 'n week by Ngwenya Lodge aan die Suidekant van
Kruger, so daar sal weer 'n effense vertraging met die volgende Patriot
wees.
Nog 'n Suidwes nooi
skryf vir ons! Estelle de Bruyn is ook verbonde aan die
Republikein, die enigste
Afrikaanse dagblad in Namibië. Ek het al voorheen van Estelle se
artikels geplaas, so geniet die een ook! Laat gerus vir Estelle weet dat
julle haar artikel gelees het en wat
julle daarvan dink, sy
hoor graag
van julle! Rêrig!
JAN TUISBLY SE KARRETJIE
Estelle de Bruyn
DIE afgelope Paasnaweek het ek nie my voete uit die dorp gesit nie. Het
jare gelede al besluit dat ek my beskeie bydrae sal lewer om die dood
van die paaie af te hou, deur my motor in die motorhuis by my eie huis
te parkeer en nêrens heen te gaan nie. En was dit nie ’n salige vredige
tydjie nie.
Waarom ’n mens tog die sielewroeging van pak en ry en oppak en uitpak en
iewers op die vlak tent op te slaan, jouself sal aandoen terwyl jy
rustig op jou sitkamerbank kan kampeer, verstaan ek nie.
Jare gelede was ons as jonggetroudes saam met vriende vir ’n Paasnaweek
op Jakkalzputz. Die oosweer het so gewaai dat die igloo-tente platgelê
het en ’n mens het sulke happe sand saam met jou oggendkoffie gesluk.
Die manne was min gepla en het gaan visvang en Wilma en ek en ons kroos
het by Oom Angel se plankhuis op Hentiesbaai gaan skuil waar Tannie Rita
reggestaan het met warm tee en Oom Angel sy boeliebief-gereg voorberei
het.
As ek reg onthou het die manne toe ook nie so dapper soos hulle die
oggend die stokke opgeneem het, die dag langs die viswaters deurgebring
nie, maar by De Duine gaan lafenis soek teen die wind.
Miskien was dit juis daardie lank gelede naweek, wat my ’n renons aan
Paasnaweke by die see gegee het.
Sedertdien het ek sleepvoetig ander reise kus toe onderneem oor die Pase,
maar ek moet bieg dat dit nooit vir my lekker was nie. Dis veral die
huistoekomslag wat elke enkele oomblik van rus wat jy langs die see
gehad het, uit jou uit wurg soos jou maag op ’n knop trek met die
buffer-teen-buffer verkeer, wat dit ’n onsmaaklike affêre maak. Dit voel
ook vir my asof dit nie saak maak wanneer jy besluit om die terugrit aan
te pak om die ergste verkeer mis te loop nie. Telkens het al die ander
naweekuitspanners dieselfde gedagte en beland jy in die
verkeersroesemoes.
My kinders is groot so vanjaar is daar nie paaseiers weggesteek en
gesoek nie. Dit het sommer in ’n bak op die buffet gestaan sodat ’n mens
elke keer as jy verbystap ’n soethappie kon vat.
By Gerine het ons Vrydag ’n heerlike paasontbyt genuttig en die res van
die naweek was ’n rustige sielsgenesende tyd van vrede en stilte.
Niemand wat jou aanjaag of aansê om iets te doen nie, niemand wat kerm
om iewers heen te gaan nie, net louter luilekker niksdoen.
Ek trek so tussen my bed met Antjie Krog se nuwe digbundel, wat ek seker
nou vir die sesde maal deurlees vir die lekkerte, na die bank voor die
TV, verby die bak met die sjokolade paaseiers, na die yskas en dan weer
terug. Tussendeur kuier ons tuisblyers onder mekaar en eet pasta by
Phillip en skaapboud by Elsabé en drink tee by Zelda in haar mooi tuin.
En die heel tyd sif die heerlike najaar reëntjie buite neer. Dis hoe ek
van my paasnaweke hou.
So ’n leeglêery bederf ’n mens ook maar erg en toe die son se eerste
bleek straaltjies Dinsdagoggend deur my kamervenster val en die kat haar
rug soos ’n vraagteken op ’n boog trek en met ’n pienk oopbek gaap, sou
ek darem maklik dieper onder die duvet ingekruip het en die werk ’n mis
gegee het. Soos Luzelle sê: "Die langnaweek was lekker, net jammer dis
’n week te kort gewees."
Ek het 'n
reisigersforum begin. Enigiemand wat wil gaan rondry of pas teruggekom
het van 'n lekker vakansie kan of 'n vraag vra of van hulle vakansie
vertel,
klik hier en
gaan lees wat ander alreeds geskryf het.
Ek versamel resepte, veral
tradisionele Suid Afrikaanse resepte, en as ek op 'n goeie resepteboek
afkom is ek soos 'n kind in 'n speelgoedwinkel. So 'n boek is Anne
Eksteen se "Onthou jy nog" Anna het nog 'n paar ander
resepteboeke ook anmekaargeslaan, gaan kyk gerus
hier na haar boeke, elkeen van hulle is iets besonders. Hier
is 'n voorbeeld van een van die resepte in die boek
MOSBOLLETJIES
1kg meelblom
10g kitsgis
397g kondensmelk (1 blik)
30ml suiker
5ml sout
90g margarien
500ml louwarm water
Sif meelblom en sout. Voeg gis en suiker by. Smelt margarien en voeg
kondensmelk by. Voeg by meelblommengsel. Voeg water geleidelik by om
sagte deeg te vorm. Knie goed vir 15 minute. Bedek en laat rys. Wanneer
deeg tot dubbel die grootte het, knie af en vorm in bolletjies. Plaas in
gesmeerde broodpan en laat in warm plek rys. Wanneer grootte verdubbel
het, verglans met geklitste eier en bak teen 200C vir 45 minute.
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amore Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy beoog om 'n gereelde nubrief uit te stuur.
Suid
Afrikaanse agterpad reisnotas - versamel deur Braham van Zyl
SKRIK-VAN-RONDOM of
RONDOMSKRIK as plaasnaam
Septimus van Zyl, alias Oubaas, van die TV sepie, Sewende Laan, kom mos
daar van Rondomskrik in Garies se wêreld. Alhoewel die TV wêreld ‘n
kamma wêreld is, is daar wel in die Piketberg distrik in die Swartland
‘n rêrige plaas met die naam van “Skrik-van-Rondom”.
Reisigers wat die pad vanaf Piketberg na Elandsbaai vat, sal so ‘n ent
anderkant Het Kruis en net voor Redelinghuys, die plaasbordjie,
“Skrik-van-Rondom” aan die linkerkant van die pad sien staan.
Interessant genoeg, woon daar wel Van Zyl’s daar.
Dit was voorheen die familieplaas van die Kriges en het eintlik
Fisantekraal geheet.
Heelwat van die Krige afstammelinge het my al van hulle kinderdae daar
vertel. Die interessantste storie wat hulle vertel, en dit is ‘n ware
storie, is oor hoe daar na goud op Skrik-van-Rondom gedelf is.
Die reisiger wat wel die moeite doen om daar af te draai, sal dan ook op
‘n skag afkom wat diep onder ‘n heuwel met die naam van “Goudkoppie” in
loop, waar daar inderdaad na goud gedelf is. Die myn is daar rondom 1894
deur ene Doyle bedryf. Teen 1896 het ene Krige en De Villiers die myn
oorgeneem.
Mnr M Grobler van Porterville het aan my geskryf en vertel hoe hulle as
kinders in die tonnel ingekruip het, maar dat die vlermuise hulle weer
daar uitgejaag het.
Pieter Spaarwater het op 23 November 1990 in sy geselsrubriek, “Van Alle
Kante” in Die Burger vertel dat die naam Skrik-van-Rondom uit die ou
Afrikaanse vertaling van die Bybel uit Psalm 31 vers 14 kom.
Deur: deur Braham van Zyl
Posbus 1259, Durbanville, 7551
Faks 021-975-4466
Sel 082-457-0019
Skryf vir Braham
en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings
direk van hom af!
e-pos :
info@explore-sa.com
Laat
jou wildste drome waar word, kry 'n kaartjie in die UK Lottery,
klik net hier
Die boerpot is gereeld om en by £11 miljoen, (
R140,000,000), sjoe, dis darem maar baie nulle!!
Peterjasie se Groot Afrikaanse Rate- en Resepte Versameling
Die
ideale geskenk en versamelstuk
Ek
het besluit om al my belangrikste eBoeke saam op een CD te sit om dit
makliker te maak om te versprei. Die CD bevat:
Tradisionele Suid Afrikaanse Resepte wat op my webwerf is
Suid Afrikaanse Boererate (naastenby 2000)
Kampkosresepte
Wille Samies (honderde idees vir toebroodjies, oopbroodjies en jaffels
Koste per CD is R100 posgeld in SA ingesluit. (R120 as ek dit per
Fastmail stuur) Dit maak 'n ideale geskenk, en ek sal die ontvanger se
naam op die CD etiket sit, bv. Aan Johan van die Smit gesin.
Klik hier
vir
betalingsbesonderhede
Nog 'n
interessante kosartikel deur Lompies
Lombaard:
Snap, Crackle
en Pop
Vir die mense wat gevorderd is in hulle jare sal nou kan onthou waarvan
ek praat. Dit is die tydperk voor televisie. Die enigste advertensies
wat beweeg het wat ons gesien het, was die wat vertoon was net voor die
flieks begin het. Die advertensies wat in my gedagtes uitstaan is, die
Eno’s advertensie, ’n advertensie waar ’n jeep in die woestyn gery het
en so tussen niks en nêrens sit die bestuurder sy flikker lig aan om te
wys dat hy gaan draai. Ek kon nie eers onthou watter produk geadverteer
was nie. Die laaste advertensie wat ek goed kan onthou is Kellogs Rice
Crispie advertensie, waar snap, Crakle en pop so rondgedans het. Mooi
herinneringe van ’n mooi tydperk.
Sekere Amerikaners het is die laat 1800’s begin besef dat hulle volk op
die afdraande pad is wat hulle eetgewoontes aanbetref. Daar was al
daardie tyd mense wat besef het dat die mense moet afwyk van hulle swaar
vleis belaaide ontbyte en meer vesel moet eet. Die man wat met die
veldtog begin het was Sylvester Graham. Dr. James Caleb Jackson het die
idee so ’n bietjie verder gevoer en ’n Granula gemaak Dit was so ’n tipe
van ontbyt koekie wat van vesel gemaak was.
Daar was ’n probleem met die Granula gewees. Dit was vreeslik hard
gewees, en ’n mens moes die ding oornag laat week om hom die volgende
oggend te eet. Dit klink vir my asof dit dieselfde goed is wat ons gekry
het om te eet in die ou Suid Afrikaanse weermag. Daar het ons dit sommer
dog biscuits genoem. Die dog biscuits moes ons ook oornag week in water
om sag te kry voordat ons dit kon eet.
Dr John Harvey Kellogg, is aangestel oor die Sewende Dag Adventiste se
gesondheids sentrum Hy het daar gesorg dat die mense heerlikke
natuurlike vegetariese kosse kry om te eet. Die rykes het na hom toe
gestroom. In 1895, het Kellog ’n ontbyt vlokkie gemaak van graan. Die
probleem was dat Dr Kellogg se behandeling en kosse net vir die rykes
bedoel was.
Kellogs het op sy eie gegaan en begin om met gesondheids kosse te
eksperimenteer. Hy het begin met ’n graan en molasse drankie te maak.
Hierdie drankie kon glo alles in ’n gebreke liggaam regmaak. So twee
jaar later maak hy toe ’n druiwe en neute drankie. Hierdie drankie was
nie baie suksesvol gewees nie. Sy bemarker sien toe ’n ander potensieele
produk raak naamlik ’n graan ontbyt produk. Hierdie Grape Nut Cereal was
’n onmiddelikke sukses gewees.
Kellog se jonger broer W.K het ook sy eie navorsing gedoen en die tweede
grootste ontbyt empire opgebou. Dit is nou net hier op hierdie punt wat
die dinge so ’n bietjie troebel raak. Dit lyk my W.K Kellogg is toe die
een wat eintlik geseëvier het. Hy het onder andere Corn Flakes uitgevind.
Eers in 1929 is Rice Crispies die eerste keer die lewenslig gesien. Van
daar is die res soos die Engelse sal sê History.
Toevallig kom my vrou hier met ’n pak Rice Crispies aan en ek neem toe
die pak en bestudeer die pak. Want ek is mos nou ’n kenner van Rice
Crispies. Snap, Crakle en Pop het nou so klein geword, want hulle moes
plek maak op die pak vir Spiderman en een of ander water geweer. Dit sal
nou ’n jemmerte wees as hulle die dag gaan verdwyn.
ePos Vriende - In die ou dae voor die internet het ek vele
penvriende regoor die aardbol gehad. Jy moes weke wag vir 'n antwoord op
jou brief! Vandag, met ePos gaan dinge sommer blitsvinnig! Mens moet
egter in baie gevalle betaal om jou naam op 'n penvriend lys te kry. Ek
glo nie daarin om vir vriendskap te betaal nie, dus gaan ek 'n gratis "ePos
Vriende" afdeling begin. Al wat jy hoef te doen om jou gegewens op die
lys te kry is om
HIER te klik en jou besonderhede in te tik. As jy soek na 'n
vriend, klik
HIER en gaan deur die lys en stuur 'n epos aan iemand met wie
jy wil korrespondeer,
so maklik soos dit!
st
se pitkos
Klik hier om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Fokus op een deug
Wanneer ‘n mens by ‘n boekwinkel soos CNA of Exclusive Books instap is
daar letterlik talle boeke op die rakke wat oor motivering, inspirasie
en sukses gaan. Dink maar aan boeke soos “The Power of Positive
Thinking” deur Norman Vincent Peale en “It’s Time for your Comeback”
deur Tim Storey om maar net twee te noem.
Nou is my vraag: Hoekom gaan dit steeds so ellendig met der duisende
mense wanneer motiveringsboeke – waarvan talle topverkopers – beskikbaar
is?
Is die fout by die inhoud van die boeke? Nee, ek glo nie dis die geval
nie. Sekerlik is daar boeke wat beter is as ander. En sekere boeke sal
sekerlik meer by jou waardes, norms en agtergrond aanklank vind, maar ek
dink daar is twee belangrike redes vir die antwoord op my vraag.
Die eerste rede is dat hoewel die boeke en inligting beskikbaar is, lees
mense nie die boeke nie. Ek dink der duisende mense lees eenvoudig nie
genoeg nie, en wanneer hulle lees, lees hulle boeke wat nie veel waarde
vir hul menswees en rigting vir hul lewe het nie. Sommige mense verkies
om voor die televisie te lê waar hulle met die minste inspanning vermaak
kan word – dikwels met gemors wat weining sin en waarde bied.
‘n Tweede rede is mense lees ‘n boek wat hul inspireer, maar weet dan
nie waar om te begin om hul lewe positief te verander nie. So hulle lees
een motiveringsboek na die ander, maar dis asof daar nie betekenisvolle
aksiestappe en groei plaasvind nie. Ek dink mense word soms oorweldig
deur te veel kennis op een oomblik, te veel idees en oormaat raad en
instruksies om te volg.
Ons moet leer om op een aspek te konsentreer en dit enduit te volvoer.
Ek het een keer gelees dat Benjamin Franklin ‘n lys van 13 eienskappe /
deugde neergeskryf het wat hy waardevol ag, maar waaroor hy nie oor
beskik het nie. Wat Franklin gedoen het was slegs om aan een eienskap op
‘n keer te werk totdat hy dit bemeester het. Al het hy nie aanvanklik
daarin geslaag om die een eienskap dadelik reg te kry nie hou hy egter
vol tot hy suksesvol was om dit onder die knie te kry. Hy het gefokus om
slegs daardie een eienskap sy eie te maak, en homself nie oor die ander
12 bekommer nie. Uiteindelik het hy daarin geslaag om al 13 eienskappe
te wen en te baas te raak. Benjamin Franklin het ‘n groot staatsman,
skrywer en wetenskaplike geword. Hy het ‘n leiersrol vervul in die VSA
se strewe na onafhanklikheid. Ook was hy uitvinder van vele uitvindings,
onder andere bifokale brille en die weerligafleier.
Onthou jy nog hoe werk die skoolsisteem. Jy moet eers die werk van een
standerd bemeester, eksamen daaroor skryf en dit slaag voordat jy na die
volgende standerd bevorder word. Jy kan nie dadelik matriek gaan skryf
nie – die leer van sukses word trappie vir trappie geklim.
So ek wil voorstel dat jy ophou rondspring van een ding na die ander,
van een aktiwiteit na die ander. Identifiseer een eienskap of
vaardigheid wat jy graag wil bemeester. Fokus daarop met al jou energie,
gedagtes en tyd totdat jy dit suksesvol jou eie gemaak het. En dan pak
jy die volgende deug, vaardigheid of taak aan.
‘n Sprankie wysheid vir die dag
“God lei ons nie deur die bekendmaking van omvattende bloudrukke vir ons
lewe nie, maar deur ons stadig stappie vir stappie vorentoe te laat
beweeg. Ons kan nie meer getrou aan onsself wees as om ons voluit tot
hierdie proses te verbind, en met al die emosionele veranderinge wat dit
meebring nie.” - M. Blaine Smith
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
|
|
|
Hierdie is 'n lang stuk, maar
lees dit gerus en wees baie, baie dankbaar vir wat julle het....
Kyk asseblief of julle vir
Elsabe op een of ander manier kan help?- Peter
Besoek gerus hulle webwerf:
www.danvillehulp.co.za
Nuusbrief - 18 September 2006
Goeiedag vriende
Nou gaan dit geil! - Die Kerswenslyste stroom in! en ons kele trek toe!
Ons bejaardes vra net die volgende:-
Dame 75 jaar:- Blikkies kos verskeidenheid asb of rys en macaroni of
suiker, koffie en tee - dankie
Dame 82 jaar: 'n Waslap of Seep of 'n vadoek!
Dame 65 jaar:- 'n Kosdrukker of 'n eier ligter of 'n Klein kastrol om
kos te kook of 'n tafeldoek
Dame 59 jaar:- 'n Sout en peperpot of Vadoeke of 'n mooi waslap!
Dame 68 jaar:- Handeroom of droëvrugte of sommer enige iets asb!
Dame 71 jaar:- 'n Foto raam 14 x 9cm of crossword puzzle boek of
sjokolade
Dame 66 jaar: Toiletware of haarsproei of kouse
Dame 73 jaar: Johnsons babapoeierof badfoam of Dawn musk handeroom
Dame 66 jaar: Net wat u gee sal reg wees
Dame 74 jaar:- Ek is bly oor die artikels wat u in my kerskous sit -
baie dankie maar iets lekkers om op Kersfees te eet asb
Dame 67 jaar:- 'n Blom in 'n potjie (violet) of 'n teddiebeer of
reukwater
Dame 56 jaar: Voet scrub en tekkie inners nr 8 of kleinbordjies en
papborde
Dame 62 jaar:- Toaster of lekkerruikgoed en onderarmspry of enige iets
anders
Dame 58 jaar:- Dreamcatcher of windchime met pink en pers in of
sakdoekies of deoderant of poeier
Dame 74 jaar:- Dinnerstel (shoprite R49-99) Tupperware (Shoprite R49-99)
Ketel asb
Dame 64 jaar:- Kruideniersware vir die spens of skoonmaakmiddels of
lekkernye asb
Dame 88 jaar:- Biltong wat gekerf is sal heerlik wees - My lus hang
kwynend uit!!!!!!
Dame 68 jaar:- Plakkies nr 5 of 'n handoek
Dame 76 jaar:- Jare laas panties by Woolworths gekoop - so hulle is nou
maar skaars en baie duur - dankie
Dame 66 jaar:- Enige iets is baie welkom baie dankie . Maar wat vorentoe
sal smaak is 'n klein skaapboudjie of tjoppies om te braai
Dame 90 jaar:- 3 Sakdoekies of 'n mooi skinkbordlappie of 1 Johnsons
baba poeier asb
Ek is 'n 74 jarige dame wat 56 jaar getroud is. Ek is 'n invalide maar
my man het my nie weggegooi nie - hy versorg my goed - enige reukwater
asb of 'n pakkie neute
Oor die algemeen is lekkerruikgoedjies - lekker eetgoed - toiletware en
kombuisware asook kruideniersware in aanvraag.
Met die volgende nuusbrief deel ek die bejaarde mans se wenslyste met
julle.
JONG GESIN IN NOOD
Ons het 'n baie oulike jong gesin wat nou behoorlik deur die noodlot
getreiter word! Ek gee so bietjie agtergrond.
Die egpaar het 'n tweeling wat 6 weke te vroeg gebore is - met die
gevolg dat hulle redelik longprobleme het en kort-kort in die hospitaal
is met longontsteking. Hulle is nou 9 maande oud en weeg so ± 8 Kg. 'n
Seuntjie en 'n dogtertjie - te pragtig vir woorde. Hulle dra 6 - 12
maande kleertjies.
Toe tref die noodlot hulle - die man het 'n moesie aan sy regter slaap
wat skielik begin jeuk en aardig raak. Uiteindelik gaan hy dokter toe (ons
ken mos die manne - wil nooit hoor om dokter toe te gaan nie!!!) en
melanoom word gediagnoseer! Die moesie is toe verwyder asook kliere in
sy nek en hulle het toe 'n veloorplanting (vanaf sy bo-been) gedoen. Dit
lyk vir my nogal na 'n baie pynlike proses - die arme jongman (25 jaar
oud) . .
Intussen raak die mediese fonds uitgeput - jy kan net dink - met 'n
tweeling kort-kort in die hospitaal en sy chirurgie ens. kan dit nie
anders nie. Volgende wat toe skeefloop is sy siekteverlof wat uitgeput
is - met die gevolg dat sy salaris nou die minumum is!!!!
Hier het ons 'n lieflike jong paartjie wat tydelik in die verknorsing is
- en ons kan help dat hulle nie sink nie.
Enige bydrae sal waardeer word - en ek glo dat ons hierdie paartjie sal
kan help om op hulle voete te bly in hierdie moeilike tyd. As ons hulle
kan help sal hulle ook moed hê om aan te gaan. Wanneer alles skielik so
drasties verkeerd loop kan jongmense maklik moedeloos word en tou opgooi!
Onthou hulle asb in julle gebede, vir algehele herstel van die kanker en
dat die babatjies sommer heeltemal gesond sal word en nooit weer hoef
hospitaal toe te gaan nie!
Ons benodig babapap en Isomil 2 asook doeke (large), klere, loopringe en
toiletware vir die 2 babas asb.
DANKIE BRIEWE
Ek weet al 'n geruime tydjie van julle projek. Ek het self familie wat
daar woon en ek sien die omstandighede waarin die mense van Danville
verkeer. Baie mense is onder die verkeerde indruk oor Danville wat seker
al jare so is, maar ek is seker as hulle ook alles verloor sal hulle
self voel hoe moeilik dit is om 'n gesonde gesinslewe te lei. Ek besef
ook elke dag hoe dankbaar mens moet wees vir werk (al geniet mens dit
nie aldag nie), 'n dak oor die kop (al is dit nie die grootste of die
mooiste) en kos op die tafel.
Ek wil net vir julle dankie se vir alles wat julle vir ons doen. Ek woon
ook in danville kamers en wens al ek het 'n beter blyplekkie gehad. My
kinders is altwee in Rainbow kleuterskool en wardeer ook alles wat die
skool vir ons doen. God seen julle en dankie dat daar nog mense is wat
omgee vir minderbevoorregtes.
TSORI HUIS (Balsem van Gilead)
Dit gaan goed by ons weduwee en haar 3 kinders - baie dankie.
Dit was Vrydagaand die oudste dogter se matriekafskeid en danksy 'n
groep vroue van Pretoria Suid Lions was sy prentjie mooi !. Ek kon nie
wag om haar te gaan oplaai vir die funksie nie! My keel het toegetrek -
voor my was 'n pragtige swaan! Sy was so mooi, mooi, mooi.!! Ek het
weereens gesien hoe Jesus drome laat waar word!! - Sy wys vir my 'n foto
van haar droomrok wat sy in standerd 5 uit 'n tydskrif geskeur het.!! Sy
het dit al die jare bewaar en daaroor gedroom - en ek is seker sy het
somtyds getwyfel - maar sy het nietemin geglo dat sy haar droomrok gaan
kry - en sy het! Is dit dan nie hoe geloof lyk nie?? Baie, baie dankie
aan almal wat gehelp het om haar matriekafskeid so baie spesiaal te maak.
Ek wens almal kon saam met my wees om hierdie baie spesiale dag vir haar
en haar ma te geniet!
Daar is heelwat mense wat gevra het na die betekenis van "die balsem van
Gilead". Phillip Scheepers het uit London vir ons die volgende daaroor
gestuur.
Daar word op twee plekke in die Bybel na die 'balsem van Gilead' verwys:
Jeremia 46:11 - "Gaan na Gilead toe, Egipte, gaan haal balsem; jou baie
medisynes help nie, jy word nie gesond nie."
en
Jeremia 8:22 - "Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie ‘n dokter
nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie?"
Gilead verwys na 'n gebied wat voor die verowering van Kanaan onder die
beheer van Ammoniete en Amoriete was. Na die intog was dit toegedeel aan
die halwe stam van Manasse en van Ruben en Gad. 'n Deel van die gebied
was dig bebos. Daar is verskeie tipe mengsels en balsems (ons sal dit
vandag boererate noem!) gemaak van die plante wat in die woude gegroei
het. Die beste kandidaat vir die 'balsam van Gilead' is 'n tipe pasta
wat gemaak is van die takkies en vrugte van 'n bos genaamd Commiphora
opobalsamum. Dit is gebruik om 'n verskeidenheid van toestande te
behandel en was skynbaar redelik bekend in die destydse Midde Ooste.
Jeremia gaan egter dieper as om net oor die plant te praat en maak 'n
uitgebreide vergelyking. Een manier om hierdie vergelyking te
interpreteer is as volg. In Jeremia 8:22 is die implikasie van wat
Jeremia sê dat die volk troos en genesing op ander plekke as by die Here
gesoek het. Gilead deel is van die grondgebied wat Hy vir Sy volk gegee
het en dit is dus 'n plek waar Hy Sy heerskappy op 'n besondere manier
wou bevestig. Hyself is dus in 'n sin die 'balsem van Gilead'. Die
boodskap is dus dat die volk (en selfs ander nasies vgl 46:11) moet
besef dat dit God alleen is wat kan seën, vertroos en genees.
Deur die jare het baie mense hierdie tema verder uitgebou en die Here
self baie direk aan die 'balsem van Gilead' verbind. Seker die heel
bekendste voorbeeld hiervan is 'Balm of Gilead' 'n Negro Spiritual. Dit
is geskryf deur slawe wat op 'n besondere manier die Here se
teenwoordigheid en die verbind van hulle (soms selfs fisiese) wonde
nodig gehad het. Die eerste versie som mooi op wat God as die 'balsem
van Gilead' vir Sy kinders wil doen:
There is a balm in Gilead
To make the wounded whole
There is a balm in Gilead
To heal the sin-sick soul
Danksy groot naasteliefde en hulp van ons ondersteuners was dit moontlik
om hierdie huis vir hulle op te rig en glo ons dat hierdie gesin nou
meer as ooit tevore sal besef en glo dat dit God alleen is wat kan seën,
vertroos en genees! en dat Hy hulle sal bewaar en beskerm.
'N BORD KOS TEEN MISDAAD
Dr. Attie van NIekerk van NOVA ( Navorsing vir die Opheffing en
Voorkoming van armoede) sê die kernprobleem van ons tyd is armoede!
Deur elke dag net 'n bord kos vir 'n honger mens op straat te gee, help
ons selfs om misdaad te voorkom. Al is dit dan net die sogenaamde "petty
crimes" van steel omdat jy honger is!!!. Want armoede veroorsaak misdaad
of ons dit nou wil erken of nie.
KERSFEES KOSPAKKE
Nadat ons al ons geskenke in het moet ons begin met die ± 350 gesinne se
Kersfeeskospakke! Hierdie jaar het ons R300 per gesin nodig asb. Dit is
dan kruideniersware vir 'n gemiddelde gesin van 5 vir die 3 dae oor
Kersfees. Ek sal later meer inligting hieroor gee oa. wat ons in die
pakke wil sit. Verlede jaar het ons as ek reg onthou vir ± 300 gesinne
kospakke gegee! (Ons gaan liewer nie nou wiskundig raak hier nie - sal
later al die berekeninge doen en so klein bietjie stress!)
KERSGESKENKE
Die volgende is in aanvraag:- Enige toiletware vir mans en dames,
Handoeke, lakens en kussingslope, onderklere vir mans/dames,
lekkerruikgoed, toasters, manskouse, koopbewyse van Dion of Game, vice
grip, blik skêr, tang, sakdoeke, skoenpolitoer en skoenborsel,
Skeermesse, Selfone, CD van Piet Smit, CD van Pieter Koffie, enige
huishoudelike produkte, Blou of wit kerkhemp XL, Afrikaanse cd's,
badhandoeke, Vodacom, MTN, Cell C lugtyd, kierie, sakmes, bruin
toiletstel, poskaartgrote fotoraampies, ligte grys mans wolkouse, pen en
potloodstel, geldbeursie, 'n alarm horlosie, Nescafe classic, Mach 3
lemmetjies, 4 groen sitkamer matjies, blokraaisel woordeboek, pienk
handoek, lekkergoed, juwele, nr 34 dames langbroeke, bedlampies,
scrapbook items,
Boodskap van oom John aan Kersfeesvader - Met globale verwarming sal u
daaraan moet dink om u bok en slee in te ruil vir 'n "motor scooter"!
Vele dank dat ons nog steeds aan jou kan glo - Jammer dat skoorstene ook
al uit is!!!!!
Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926
Aflewerings adres:-
286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
PS Bel asb voor jy ry
|
|