|
Wees gegroet!
Welkom aan alle nuwe
intekenare!
Ek lees al 'n
geruime tyd van die geheimsinnige "Dutch ovens" wat die Amerikaners
gebruik. Ek besluit toe om ondersoek in te stel en moet toe uitvind dat
'n "Dutch oven" niks anders is as ons gietyster platboompotte nie, die
potte wat ons so lekker potbrood in bak wanneer ons gaan kamp!
Die Amerikaners gaan
egter heeltemal oorboord, hule het selfs formules wat vir hulle vertel hoeveel
stukkies houtskool hulle bo en onder die pot moet sit, elke soort kos
het 'n ander verspreiding, hoeveel bo en hoeveel onder. Dan het hulle
plaaslike, streeks en ook nasionale "cookoffs". Ja-nee, "dutch ovens" is
GROOT in Amerika. By navraag het ek agtergekom dat hulle nie veel weet
van ons ronde driepootpotjies nie en ook nie weet waar om hulle in die
hande te kry nie. Die belangstelling is egter daar het ek agtergekom.
Die Mandela-stigting
publiseer glo 'n stel van 9 Mandela "comics". Ek wil graag 'n stel bekom,
kan iemand dalk help?
Laat my
weet asseblief.
Ek het 'n webbladsy
gemaak wat meklik met 'n selfoon beloer kan word, dis net 'n bietjie
teks so sal maklik aflaai, gaan kyk gerus:
http://funkymunky.co.za/sel.html
Nog 'n Suidwes nooi
skryf vir ons! Estelle de Bruyn is ook verbonde aan die
Republikein, die enigste
Afrikaanse dagblad in Namibië. Ek het al voorheen van Estelle se
artikels geplaas, so geniet die een ook! Laat gerus vir Estelle weet dat
julle haar artikel gelees het en wat
julle daarvan dink, sy
hoor graag van julle! Rêrig!
Groen vingers
Estelle de Bruyn
IN Windhoek kabbel
die stroompies ná die sluise van Avisdam oopgemaak is. In die tuine
groei die gras en plante met hernude lewenslus na die wonderlike reën en
die daaropvolgende sonskyndae. Teen die blou uitspansel bou daar weer
belowende wolke op.
Dit alles is die resep wat my buitentoe jaag met ’n verbete geesdrif vir
tuinmaak.
My vingers is pienk en ver van groen af en in die verlede het my pogings
om enige iets van ’n bolplant, ’n struik of ’n saailing aan die groei te
kry, jammerlik misluk. Die tulpe wat ek al by geleentheid geplant het,
en wat wel opgekom en geblom het, het stingels so lank soos viooltjies
s’n gehad. Die gesiggies was bedremmeld en die potplante wat ek
binneshuis probeer kweek het, het na ’n moedige stryd bes gegee, hulle
blare het verbruin en uiteindelik het hulle pot en al in die asblik
beland.
Maar met die wonderlike weer van die afgelope tyd is ek opnuut
begeesterd en my voete jeuk van opgewondenheid om kwekery toe te jaag en
’n kattebak vol plante, kompos, oulike klein grafies en harkies,
geblomde handskoene om die tuinwerk mee aan te pak en sommer ’n paar
pakkies saad te gaan aanskaf.
In my notaboek het ek reeds ’n skets gemaak van my nuwe kruietuin wat
mooi geplaveide paadjies tussen die beddings gaan hê waarop ek tussen
die welriekende lowergroen kruie sal kan stap. Daar moet ook ’n
voëlbadjie op ’n staandertjie wees waarin die voëltjies kan baai sodat
ek na hulle welsalige getjirp kan luister terwyl ek soos ’n wafferse
ekspert in my tuintjie werkskaf.
Toe ek verlede jaar die Grootfontein skou besoek het, het ek twee wilde
vyebome, 'n koorsboom en 'n worsboom gekoop. Nestor, my tuinier, het
verlede week gesê hulle raak te groot vir die potte waarin ons hulle
uitgeplant het en hulle moet nou grond toe. Vir die worsboom het ons ’n
plek in die hoek van die voortuin gekies, waar die ou komposgat was en
hom daar geplant. Die grond is nou heerlik vrugbaar van al die jare se
skille en oorskiet wat daar in is.
Die koorsboom het hy in die hoek van my beplande kruietuin geplant. Ek
het nog nie raad met die twee wildevyebome nie, want al wat ek weet is
dat hulle wortelstelsel so erg is dat hulle 'n huis se mure kan laat
kraak en oplig. Ons soek nog 'n lekker plek vir hulle waar ek hul
glansblinkblare kan geniet en eendag sal kan uitspan in hul skadu.
In die voortuin kom die Virginia Creeper ook mooi aan. Ek glo nie dit
gaan vanjaar al die muur toegroei nie, maar na die fantastiese goeie
reën van die afgelope tyd het hulle 'n lekker hupstootjie gekry en klim
hulle nou met mening.
Teen volgende jaar behoort die lelike ou witmuur oortrek te wees met die
Creeper. In die somer sal dit ’n groen lushof wees, in die herfs ’n
kleure tafereel en in die winter ’n treffende kontras tussen leë swart
takke en die wit muur. Sodra die eerste lente in die lug kom sal brose
liggroenblaartjies begin verskyn wat vir almal ’n aanduiding is dat die
seisoene begin draai.
Maar voor dan moet baie gebeur en indien ek welslae met my droomplanne
vir my droomtuinjie wil hê, sal ek maar liefs my pienk vingers uit die
grond hou en dit aan Nestor se bekwame groen vingers oorlaat om die
plantwerk te doen.
Netvriende is 'n e-pos geselsgroep waar mense van regoor die die
wêreld in Afrikaans met mekaar gesels. Daar word oor allerlei
interessante onderwerpe gesels, grappies gemaak, raad gevra en sommer
net gesellig saam verkeer.
Indien jy belangstel om deel van hierdie gawe groep te wees, stuur gerus
'n e-pos aan Rosi by
rosi@rosi.co.za , en
jy sal as lid aangesluit word.
Ek
is ook lid van hierdie Groep, dis regtig 'n gawe klomp vriende!
Hou jy daarvan
om te skryf? Wil jy jou werk publiseer? Dis makliker as wat jy dink!
Begin deur jou werk in eBoekformaat te publiseer en dan oor die internet
te verkoop. Die koste is absoluut minimaal en biljoene mense wêreldwyd
het toegang tot jou werk. Stuur net jou skepping in en sit terug, alles
word vir jou gedoen!
Klik
hier vir meer besonderhede!
AFRIKAANSWEEK
2006 IN DIE PAARL
‘n Feesviering van alles wat lekker is in Afrikaans
Die Afrikaanse Taalmuseum en ander organisasies in die Paarl span
vanjaar weer saam om ‘n interessante en uiteenlopende program aan te
bied vir Afrikaansweek (13 tot 19 Augustus). Die fees sluit vanjaar
onderwerpe in soos kontreistories, humor in die uitsaai- en toneelwese,
die bevordering van Afrikaans, en die erfenis van N.P. van Wyk Louw.
Bekende skrywers en sprekers soos Philip de Vos, Joey de Koker, Christo
van der Rheede, Willem Fransman, Gideon Joubert en Sussie Kotzé tree
tydens vanjaar se fees op.
Die fees open op Sondag 13 Augustus met ‘n spesiale Afrikaanse kerkdiens
deur ds Carel van Wyk in die Suider-Paarl NG Kerk.
Die Afrikaanse Skrywersvereniging bied op Maandag 14 Augustus ’n
voorleesaand aan met die tema ‘n Aand met die grotes by die Taalmuseum.
Jonger digters wat deur ander bekende digters beïnvloed is, sal uit hul
werke voorlees. N.P van Wyk Louw se ryk literêre erfenis sal ook tydens
’n gesellige byeenkoms op Dinsdag 15 Augustus herdenk word.
Vrydagaand kuier die veelsydige Philip de Vos by die 55+ Sop-en-broodaand
van die NG Gemeente Agter-Paarl. Kontreistories is ’n skrywersprogram
met Gideon Joubert, Willem Kotzé, Abraham Brink en Sussie Kotzé wat op
Saterdag 19 Augustus by die Taalmuseum plaasvind. Dié program sluit ook
’n sangoptrede deur Belia Lourens en ’n Sandveldete in.
Die Paarl se eie geliefde aktrise, Joey de Koker, gesels op Woensdag 16
Augustus oor humor in die uitsaai- en toneelwese. Paarl Museum en die
Dameskring bied op Donderdagoggend ’n spesiale Vroueoggend ter ere van
Vrouemaand aan, met inspirerende praatjies deur dinamiese vrouens van
die Drakensteinvallei, soos Sylvia le Cordeur en Muriel Ndzuzo. ‘n
Gratis begeleide toer deur Paarl Museum se uitstallings oor die dorp se
geskiedenis vorm deel van hierdie spesiale oggend.
Twee lesings rondom die bevordering van Afrikaans word Dinsdagoggend by
die Hugenote-Gedenkskool gegee in samewerking met die Stigting vir
Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die Afrikaanse Taalmuseum. Die
sprekers is Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die SBA, en
Isabeau Botha van die Taalmuseum.
By die Taalmuseum self word daar vanjaar tydens Afrikaansweek weer
spesiale opvoedkundige programme vir graad 6- en 7-leerders aangebied,
waarvoor studente van die Universiteit van Stellenbosch se
Dramadepartement spesiaal ’n interaktiewe toneelstuk rondom die GRA
geskep het. Op Maandag 14 Augustus vind ’n funksie plaas waartydens
trommels vol splinternuwe boeke aan ‘n aantal skole oorhandig word as
deel van ’n projek in samewerking met Biblionef en die Vriende van
Afrikaans.
Die derde Marie Luttig-Gedenklesing word vanjaar ook tydens
Afrikaansweek deur prof. Elize Botha by die Hugenote-Gedenkskool gehou.
Vir meer inligting oor die Afrikaansweekprogram, kontak vir Natasha by
021-872 3441 of
admin@taalmuseum.co.za
Ek het 'n
reisigersforum begin. Enigiemand wat wil gaan rondry of pas teruggekom
het van 'n lekker vakansie kan of 'n vraag vra of van hulle vakansie
vertel,
klik hier en
gaan lees wat ander alreeds geskryf het.
Brandrissiekonfyt
100ml water
100ml strooisuiker
60ml witwynasyn
5ml fyn gekapte rooi brandrissies
25ml fyn gekapte knoffel
5ml mielieblom, verdun met 5ml water
Bring die water, strooisuiker en asyn tot kookpunt in ‘n
middelslag-kastrol. Voeg die brandrissie, knoffel en mielieblom by en
laat prut oor lae hitte tot stroperig en tot die stroop die agterkant
van ‘n lepel bedek.
Verwyder van die hitte en laat afkoel.
Ek luister mos
een Saterdagoggend na Amore Bekker op RSG waar sy 'n onderhoud voer met
Braham van Zyl. Ek kontak hom toe en is nou op sy poslys, hier volg een
van sy vertellings. Kontak hom gerus en vra om op sy poslys te kom. (Eposdres
onderaan die artikel) Hy beoog om 'n gereelde nubrief uit te stuur.
Suid
Afrikaanse agterpad reisnotas - versamel deur Braham van Zyl
SAKRIVIER SAAIDAMME, Brandvlei, Noord-Kaap Provinsie
Hennie Reichert is ‘n gebore Boesmanlander en woon deesdae op Napier in
die Overberg. Hy vertel dat hy op Nelskop, so 15 km oos van Brandvlei
gebore is. Die boere het hulle grond daar van Brandvlei se dorpsbestuur
gehuur om in die Sakrivier se vloedvlakte saaidamme uit te lê.
Hierdie saaidamme is geskoei op die model van besproeiing wat in Egite
langs die Nylrivier gevind word, waar die rivier se slikryke vloedwater
in groot plat stukke aarde langs die rivierloop ingekeer word. Die water
word dan toegelaat om stadig in die grond weg te sak en só die aarde
deeglik diep nat te maak.
Die skrywer Laurence Green vertel in sy boek, Karoo: Land van Weerbegin,
dat Donald Bain, 'n kleinseun van Bainskloof se pasbouer, een van die
eerste boere in daardie geweste was wat saaidamme op groot skaal aangelê
het. In 1909 het hy sy grond aan 'n groep sakemanne, die eienaars van
die Zak River Estates, verkoop. Hierdie groep het groot lappe aarde
langs die Sakrivier opgekoop en oeste wat van vyf tot dertigvoudig op
die insette vermeerder het, is ingebring. In 'n artikel in The Farmers
Weekly van 24 April 1918 word gewaarsku dat daardie saaidamme se sukses
nie vir lank sou aanhou nie omdat die grond sou toeslaan en ook sou brak
word van die baie water. Die opbrengste het dan ook later só erg begin
afneem dat die eienaars van Zak River Estates hulle plase vanaf 1944
weer begin verkoop het.
Die stuk doodloop spoorlyn wat vandag verlate tot by Sakrivier stasie lê,
getuig daarvan dat daar eens op ‘n tyd ‘n baie groot aanvraag vir
spoorvervoer om al die koring daar weg te ry moes gewees het.
Deur: deur Braham van Zyl
Posbus 1259, Durbanville, 7551
Faks 021-975-4466
Sel 082-457-0019
Skryf vir Braham
en vra om op sy poslys geplaas te word en ontvang sy reisbeskrywings
direk van hom af!
e-pos : info@explore-sa.com
Laat
jou wildste drome waar word, kry 'n kaartjie in die UK Lottery,
klik net hier
Die boerpot is gereeld om en by £11 miljoen, (
R140,000,000), sjoe, dis darem maar baie nulle!!
Boererate en
Boerekosresepte saam in een eBoek vir net R75. Geen posgeld om te betaal,
stuur dit as 'n geskenk per epos! Twee boeke in een!
Kontak my vir betalingsbesonderhede.
Probeer die een
as julle weer gaan kampeer:
Koek in 'n
lemoen
1 wit of geel koek mengsel
10-12 lemoene
Maak koek mengsel aan volgens aanwysings op pak. Sny boonste 1/3 van
lemoene af. Haal binneste uit onderste 2/3 van lemoene, jy het nou ‘n
leë dop. Vul die leë dop halfpad met die koekmengsel. Sit nou die
boonste 1/3 op as ‘n deksel. Draai lemoen nou toe in 15X15cm aluminium
foelie. Plaas op kole vir 10-15 minute. Lewer 10-12 porsies.
Vir ontbyt in 'n
lemoen, neem kolwyntjie deeg.
ePos Vriende - In die ou dae voor die internet het ek vele
penvriende regoor die aardbol gehad. Jy moes weke wag vir 'n antwoord op
jou brief! Vandag, met ePos gaan dinge sommer blitsvinnig! Mens moet
egter in baie gevalle betaal om jou naam op 'n penvriend lys te kry. Ek
glo nie daarin om vir vriendskap te betaal nie, dus gaan ek 'n gratis "ePos
Vriende" afdeling begin. Al wat jy hoef te doen om jou gegewens op die
lys te kry is om
HIER te klik en jou besonderhede in te tik. As jy soek na 'n
vriend, klik
HIER en gaan deur die lys en stuur 'n epos aan iemand met wie
jy wil korrespondeer,
so maklik soos dit!
st
se pitkos
Klik hier om st
se webwerf te besoek
en om in te teken op sy weeklikse nuusbrief
“Die weeklikse nuusbriewe van Dr Potgieter is my dosis lewens
vitamiene en het weer kleur en motivering vir my lewe gegee” – ‘n leser.
Nog
gevleuelde woorde van ST:
Het jy al iets aangepak en misluk?
Dis nogal ‘n belangrike aspek, want ‘n mens probeer iets, jy gee jou
alles en dan werk dit nie uit soos wat jy gehoop het nie. En jy raak
moedeloos en wil nie weer probeer nie. Dis nogal ‘n aaklige ondervinding
wanneer jy voel dat jy nie goed genoeg is om ‘n sukses van iets te maak
nie. Dan begin jy in jouself twyfel.
Vandag dus ‘n paar gedagtes oor weer begin. Om op te staan en te sê ek
gaan my nie laat onderkry nie. Ek gaan nie tou opgooi nie.
Om weer te begin
Ek onthou van ‘n projek wat ek eenkeer aangepak het. Na heelwat energie
en tyd daaraan spandeer, het dinge skeef geloop en het ek eenvoudig
besluit ek kan nie langer aangaan nie. Die saak het egter aan my bly
knaag en my gedagtes nie rus gegee nie.
Op ‘n goeie dag het ek die saak opnuut in oënskou geneem, en besluit om
weer te begin. Die keer sou ek my voorbereidings beter tref. Ek het my
foute ontleed en gekyk waar dinge skeef geloop het. Watter foute het ek
gemaak. Waar kon ek beter stappe en besluite neem. Met die eerste
probeerslag het ek probeer om alles op my eie te doen soos wat ek gedink
het is reg – maar die keer het ek vir die regte mense vir raad en
inligting gevra.
Groot was my vreugde toe ek met die tweede probeerslag heelwat meer
sukses behaal het. Maar het ek nie weer probeer nie, sou ek met die
mislukking altyd moes saamleef.
Daar is niks daarmee verkeerd om ‘n fout te maak nie. ‘n Blaps is nie
die einde van die wêreld nie. Almal maak foute en misluk. Dis nie die
punt nie. Die punt is of jy kan opstaan uit jou fout en verleenthede en
‘n tweede keer probeer. Maar die keer doen jy dit met die les in jou
agterkop en sodoende kan jy jou taak beter en meer oordeelkundig aanpak.
Is daar iets waarmee jy misluk het? Is jy bang om weer te probeer, bang
jy misluk en kry weer seer?
Ja, mislukkings en blapse is nie lekker nie, dit breek jou selfvertroue
af. Eventueel is die mens wat ondanks sy foute, mislukkings en
tekortkominge kon opstaan en bo uitkom ‘n ware wenner. Iemand wat val en
weer opstaan, is iemand wat ons respek verdien.
Daar is ook iets soos die realiteit in die oë kyk. Wanneer iets werklik
nie vir jou is nie, en jy het misluk, hoef jy nie noodwendig presies
dieselfde ding weer aan te pak nie. Soms wel, maar ander kere is een
deur wat toe gaan ‘n bedekte seën vir ‘n nuwe deur wat oopgaan en beter
geleenthede bied.
Staan op van jou mislukkings en teleurstellings en vernederings, wys jy
het murg in jou pype en staal in jou vasbyt, en wys vir jouself dat jy
kan met ‘n tweede probeerslag. So gaan jy weer selfvertroue en
selfrespek kry.
‘n Sprankie wysheid vir die dag
“Nie geluk en sukses nie, maar teenspoed en beproewing bou
persoonlikheid en karakter.” – Wilhelm von Schramm
Dr ST Potgieter
Tel: 021 949 5007
Sel: 083 227 3683
Epos:
st@pitkos.co.za
|
|
|
Kyk asseblief of julle by een
van hierdie projekte kan help? - Peter
Met die jaar oor die halfpadmerk besef 'n mens hoe min tyd ons eintlik
maar hier op aarde het - en wat jy daarmee doen is natuurlik ook 'n
goeie vraag?
Op die oomblik gaan dit doller as kop-af met ons projek! Dit wikkel en
woel en gons behoorlik. Hiermee terugvoer oor wat alles gaande is. Kom
ons begin by die lekker dinge:-
ANDEON PROJEK
Man hier gaan dit nou vir 'n verandering goed! Die Pretoria Wes
Rotariers het baie groot werk vir ons hier gedoen, waarvoor ons baie,
baie dankbaar is! Hulle het die hele rioolstelsel vervang en nuut
geinstalleer volgens Stadsraad regulasies!! 'n Nuwe tenk ingesit, die
storte vir ons reggemaak en die wonderlikste van alles is "Hulle het 'n
waterpyplyn aangelê en vir elke inwoner 'n kraan voor sy huisie
geinstalleer!!!" Hulle het alles self gedoen in hul privaat tyd in die
aande en oor naweke!
Die dankbaarheid vir "jou eie kraan en water by jou huisie" was so groot
!! Dit wat ons as vanselfsprekend aanvaar is weelde vir hierdie mense!
Dit is omtrent 'n miernes van bedrywighede daar. Daar word tuingemaak,
omgespit, skoongevee en ge-arbei vir 'n vale!
Vandat elkeen sy "eie water" het, is dit sommer asof die gees ligter is
en daar meer hoop is. BAIE DANKIE Rotariërs julle sal nooit besef wat
dit vir die mense en ons projek beteken nie!
Nog 'n groot lekkerte was ons eerste TROUE by die Andeon Projek. Daar
het jong ongetroude paartjie om hulp kom aanklop. Hulle het dringend
akkommodasie nodig gehad. En soos altyd was Arnold meer as bereid om
hulle by te staan en te ondersteun maar die boodskap was ook baie
duidelik "By die Andeon Projek probeer ons om die Christelike beginsels
uit te leef" "Julle is welkom maar as 'n getroude paartjie!" Na berading
en bystand het die jongman uiteindelik die "Ja-woord" gevra! en Verlede
Saterdag het ons op die plot bruilof gehou! lekker-lekker!
Die bruid was pragtig en toe sy aan haar pa se arm die vertrek binnekom
het ek geweet "op hierdie plot gaan daar nog groot en wonderlike dinge
gebeur"!!! Hierdie grondpad projek gaan nog vir ons wonderlike lewens
lesse leer!
Die foto's gaan binnekort op die webwerf wees - gaan kyk gerus.
Met fondse wat ons ingekry het gaan ons hierdie week sement en sinke
koop, sodat die opelug badkamers nou dakke kan kry en die nuwe huis vir
die gesin van 6 nie meer 'n "stêrretjies dak" gaan hê nie! Sodra die dak
op is kan hulle oortrek daarheen.
Die siek vrou waarvan ek verlede keer gepraat het, het intussen 'n
aorta-omleiding gehad en het nou definitief gangreen in haar groottoon!
. Sy gaan hierdie week weer hospitaal toe en ek hoop en bid dat hulle
vroegtydig goeie werk sal maak sodat sy nie uiteindelik van haar
ledemate verloor nie! Ons het gelukkig 'n skenking vir 'n houthuisie
gekry en is sy nou uit die karavaan in haar eie huisie
Arnold moet nou weer ploeg en die land regkry vir die volgende groente -
nou kan die manne weer zula!!
OUETEHUISE
Tussen die 2 ouetehuise is daar al ± 28 bejaardes hierdie jaar oorlede!
Dit is hartseer en baie swaar vir die inwoners. Dit maak 'n mens ook net
weer bewus van jou eie lewe en sterflikheid! Voor jy jou oë uitvee is
nog 'n week en nog 'n jaar verby.!
By Bloudakkies eet die inwoners elke Dinsdag al te lekker saam. Verlede
week het Clive Bruce die ouemense onthaal met musiek
uit hulle eie tyd. Dit was 'n heerlike sonnige dag - met goeie sang en
heerlike hoenderpasteie, slaai en nagereg om die dag sommer volmaak te
maak! Vergete was die minder lekker dinge van die lewe en het almal
lekker saamgesing en gelag en gesêls.
Jurie Els kom die oumense besoek op die 15e Augustus en ons beplan om
dit sommer ook weer 'n lekker bederfdag vir die bejaardes te maak!
By Margaretha Ackerman SAVF tehuis - kon ons ook verlede week nog 120
komberse aflewer! Dit is met groot dankbaarheid ontvang en dadelik
uitgedeel.
KLEUTERGROEP
Die kleintjies word ouliker by die dag! So vreeslik slim al!
Ons kon ook 250 komberse hier vir die kleuters en hulle ouers uitdeel!
Is dit nie wonderlik nie? Duisende dankies aan almal wat gehelp het om
hierdie komberse te skenk!!
LYDENBURG PROJEKTE
Die huis van beskerming is gereeld in gebruik.
Ons kon 60 komberse aan 'n groep bejaardes (waarvan party sieklik en
gestremd is) uitdeel. Jou hart krimp wanneer twee oumens-hande
saamgeklap word en 'n tandelose mond so breed glimlag vir 'n enkele grys
kombers!
By die Emndinini Kleuterskool het dit ook geil gegaan. 50 Kleuters het
elkeen 'n lekker warm mussie ontvang wat sommer dadelik opgesit moes
word. Hulle oortjies was yskoud toe ek die hoedjies opsit! Party het
omtrent 5 "ponytails" op die kop
gehad en moes 'n mens nogal jou storie ken om nie die haarstyl te
verfonkfaai nie!!! Toe was dit tyd vir "nannas" Die ogies het lekker
geblink vir al die swieties en die kersie op die koek was toe elke kind
nog 'n kombers ook ontvang het. Die komberse is dadelik om die lyfies
gedrapeer en met die hoedjies op en swiete in die kies, was dit nogal 'n
mooi en sagte prentjie! (Die foto's sal ook binnekort op die web wees)
So bring ons ondersteuners soveel vreugde en verligting - dat dit
eintlik hartseer is dat almal nie die dankbaarheid en vreugde kan ervaar
wanneer die mense die artikels ontvang nie. Ek wens so dat almal net
verseker sal weet dat hulle hulp so opreg waardeer word! BAIE DANKIE
weereens!
EMANUEL GROEP
By hierdie voedingskema gaan dit ook somtyds maar woes. Maar op die
oomblik gaan dit goed want danksy 'n paar dames se ondersteuning en
moitvering kan ons nou daar 'n "kombuis" vir hulle inrig. Hulle is druk
besig met die "bouery" en toe kom die storm en die reën gister en bedot
die hele spul! - Maar nou ja - vandag ruim hulle weer op een gaan maar
weer aan met die werk.
HAWELOSE SKUILING
Ons kon ook 200 komberse aan Dina (welsynwerkster) oorhandig vir die
skuiling in die middestad. Dit het blykbaar ook groot verligting en
vreugde gebring!
BOKSBURG
Ek het verlede keer geskryf oor die nood daar. Ons kon ook 100 komberse
aan hulle gee. Sita het die verspreiding daarvan behartig.
ALGEMEEN
Komberse - Ons het nog steeds komberse en warm klere nodig asb - Ons kon
nou 1 kombers per persoon uitdeel. Maar 'n 2e kombers sal darem soveel
meer warmte bring asb.
Klere - Hier begin my swanesang alweer!! - Dames, die seisoen het
gedraai, dit wat jy nou nog nie gedra het nie, is te veel - gooi uit -
gooi oor na ons toe asb! Ons het altyd enige goeie bruikbare items nodig
asb.
Huisraad - Enige huishoudelike items, linne ens wat nog in 'n goeie en
werkende toestand is, is meer as welkom asb.
Babas - "Oh my soul" Ons het dringend baba klere, meubels, kos enige
iets vir babas nodig! Daar was weer 'n "bevolkings ontploffing" tenspyte
van al ons goeie voorsorg (inspuitings ens) of so het ons gedink! Die
probleem is dat die meisies eers by ons uitkom wanneer dit te laat is -
en dan moet ons help!
Kruideniersware - Ons kosvoorraad begin nou laag raak. Enige
kruideniersware, groente, vleis ens. is bitter welkom en nou broodnodig.
Stapelvoedsel soos mieliemeel, rys, suiker, pasta, soja, margarien, olie,
toebroodjiesmere, melk en blikkies vleis kan ons nooit genoeg van hê nie
asb.
WEEREENS - Baie, Baie, dankie aan al ons projek se ondersteuners. JULLE
is die projek! JULLE is die mense met groot naasteliefde wat die VERSKIL
maak! Sonder julle is en kan daar nie 'n projek wees nie. BAIE DANKIE!
Bankbesonderhede:
Danville Hulp Projek
FNB - Brooklyn
Takkode:- 251 345
Tjek rek: 620 546 34128
Swiftkode: FIRNZAJJ926
Aflewerings adres:-
286 Cliffendale rylaan
Faerie Glen
Tel 012 991 3914 Sel 082 8282 551
E.pos - elecnet@mweb.co.za
Webwerf: www.danvillehulp.co.za
PS Bel asb voor jy ry
|
|